Een van ons blogmaats het die uitdaging gerig: doen iets om die lewe te vier en kom vertel dit hier.

Kleintydherinneringe aan Johannesburg het my lief gemaak vir stadstonele: vuilerige sypaadjies, hoë geboue, die koue van strate wat maar min sonlig kry. Ai, en die mense: ryk, arm, tuis en toeris, modieus en verflenterd… Die essensie van STAD is New York. In 2013 kon ek die stad die eerste keer beleef en nou was daar ‘n tweede kans! As my stem tog nog sterk en helder was soos in my jeug, het ek daardie heuglike oggend van 1 Maart 2020 my metgeselle verpes met “Start spreading the news…” – hmm, miskien ook maar goed dat ek myself moes inhou.

Na maande se beplanning trek ons Sondagoggend 9:00 met twee Chevrolet Traverses uit Hershey weg om die dag in New York te gaan deurbring: V&P wat elkeen een van die yslike voertuie bestuur, ek, hulle agt seuntjies van die student home en twee lede van Project Fellowship: Amy en Penny. Project Fellowship is ‘n program wat werknemers van Hershey se Chocolate World nooi om by ‘n student home betrokke te raak, sodat hulle die Milton Hershey School (MHS) van naderby kan beleef, kan sien dat hulle werk soveel meer beteken as ‘n salaris. Op die omhulsel van Hershey Chocolate staan die volgende boodskap:

Every Hershey’s product you’ve enjoyed has helped support children in need through Milton Hershey School.

V is oneindig dankbaar oor die wonderlike mense wat by haar huis betrokke is, want hulle reël spesiale uitstappies vir die kinders en kom help soms oor naweke om die spulletjie besig en gelukkig te hou. Huisouers by MHS het unieke werksure: hulle skofte strek oor twaalf dae. Op die twaalfde dag gaan hulle 14:00 af, en vier dae later moet hulle weer om 14:00 aanmeld.  Hierdie 12/3-skof beteken dat hulle gereeld twee agtereenvolgende naweke werk, wanneer die kinders nie skoolgaan nie en heeltyd by die huis is. Dis dan wanneer die mense van Project Fellowship goud werd is. Toe V&P die New York-plan bedink het, het hulle gevra wie van hulle Project Fellowship-mense kans sou sien om saam te gaan om na Frozen op Broadway te gaan kyk. Hulle sou hulle eie kaartjies moes koop, maar daar was darem vir hulle vervoer. Amy en Penny het ingewillig en nou was daar vyf volwassenes om agt seuntjies in New York op te pas, ‘n heel goeie balans. Wat meer is: daar is ‘n Hershey Chocolate World-winkel reg op Times Square en Amy en Penny het hulle kollegas vertel van ons besoek. Die gevolg was ‘n uitnodiging om Chocolate World te kom besoek, ai, en watter epiese besoek was dít nou!

Halfpad hou ons by ‘n vulstasie stil om bene te rek en smulhappies te eet: Hershey-lekkergoed en Dunkin’ Donut se munchkins, klein deegbolletjies deurdrenk van vet en suiker. Langs ‘n reuse-trok wat by ‘n spesiale parkeerplek ingetrek is, smul ‘n seemeeu aan ‘n stuk pizza: pik dit met sy sterk snawel, skiet dit in die lug op en pluk in die proses ‘n stukkie af wat hy dan eers verorber. ‘n Seemeeu, myle ver van die see af? P verduidelik daar’s ‘n rivier en dat die seemeeue rivierlangs binneland in vlieg. Dit was die eerste fassinerende prentjie in ‘n dag wat my sinne heeltemal sou oorweldig…

Om by Manhattan uit te kom, ry ons in ‘n lang tonnel onderdeur die Hudsonrivier. Een van die seuntjies voel benoud by die gedagte, maar voordat daar werklik paniek is, is ons alweer anderkant uit en trek ons by die parkeergarage in waar my georganiseerde meisiekind vooraf plek bespreek het. Sy gee met verligting die sleutels oor aan die parkeerbeampte, dankbaar dat sy nie die monsterkar hoef te parkeer nie, en daar gaat ons. Buite op die sypaadjie word die seuntjies verdeel: twee elk vir V&P en Penny, en een elk vir my en Amy. “Choose your buddy!” kom P se bevel en ek kies vir B, wat my partykeer saans na devotions skamerig ‘n good night hug kom gee. Vol vertroue krul sy vingertjies om myne en so pak ons die sypaadjies van die Big Apple aan.

Dis die middel van Sondag en die son skyn, die pas is effens meer ontspanne as in die week. Ook maar goed so, want ek verkyk my so aan die uitrustings en uitdrukkings van New Yorkers en toeriste dat ek amper vergeet om te beweeg! Dis opvallend hoe baie honde daar in New York is: grotes aan leibande, kleintjies wat rondgedra word – ek onthou veral ‘n pragtige wit-en-swart langhaarhondjie met ‘n fyn gesiggie, wat heerlik knus in haar nooi se arms gesit het. Gesinne, paartjies, enkelinge stroom verby: kleuters in stootwaentjies, tieners op uitstappies, ‘n lang maer jongman met ‘n elegante pelsmus, ‘n goedgeklede jongvrou met ‘n mosterdkleurige donsjas en knielengte bruin stewels, haar lang neutbruin hare los in die sagte, koue wind.

Naby Times Square, op die hoek van 6th Avenue en 44th Street, gaan staan ons om die toebroodjies te eet wat V ingepak het sodat die seuntjies darem iets substansieels inkry voordat hulle in Chocolate World beland. Dis reusagtige subs met laag op laag ham en kaas en vir die grootmense ‘n cranberry-walnutbroodjie met ham, kaas, tamatie en slaai, sommerso staan-staan en in die openbaar verorber – heerlik!

Toe betree ons Chocolate World en word verwelkom deur ‘n wandelende Hershey chocolate bar en nog twee werkers: ‘n energieke spitsgesig-meisietjie met ‘n bolla hoog op haar kop, en ‘n groot, rustige man in ‘n geblomde truibaadjie, albei so vriendelik dat mens hulle sommer wil druk! Die Hershey bar wuif en knipoog met sy gewysbroude oge, maar sukkel om sy kostuum te bowe te kom: ‘n drie-dimensionele strook spons wat hom seker so agt voet hoog maak, met maer beentjies wat onder uitsteek, geplant in groot slofferige skoene. Hy lei ons parade deur die stampvol winkel (ek weet ook nou hoe lekker dit is om ‘n BBP te wees!) en ons word toegegooi met lekkernye. Ons kry gratis lekkers, warmsjokolade, ‘n bietjie later melkskommels en groot blokke sjokolade met ons groepfoto op die omhulsel. Een winkelmuur is getooi met Reese’s se kenmerkende geel, bruin en oranje (dis hulle wat die peanut butter cups en allerhande ander variasies van sjokolade-met-grondboontjiebotter maak) en teen ‘n ander muur spel groot silwer letters “KISSES”, die naam van die ikoniese toegedraaide Hersheysjokoladetjies wat soos ‘n vet druppel sjokolade lyk. Die lampe is ook in die vorm van kisses! Daar is sagte speelgoed wat soos Hershey bars en kisses lyk, onderbroeke, sokkies en T-hemde in die verskillende kenmerkende kleure van die bekende lekkergoed. Hierdie mense is die meesters van handelsmerke!

Toe dit tyd word om ‘n draai te loop, word ons deur ‘n Employees Only-deur na ‘n beknopte gangetjie begelei, met inligting oor werksvoorwaardes teen die een muur opgeplak en pakke met vol bottels koeldrank teen die ander muur opgestapel. Terwyl P badkamerdril doen: “C’mon let’s go, boys!” “Next lady!”, gesels ons met ons begeleiers oor hulle lewe in hierdie stad. Dan groet ons, sê oor en oor dankie, kry helderkleurige geskenksakke afgerond met rooi sneespapier en durf weer die straat aan.

Die seuntjies wil na die sokkerwinkel Pele gaan kyk. Daar is sweerlik genoeg balle vir elke sokkerspan in die wêreld. Stewels van die verstommendste kleur en ontwerp pryk op die rakke en relings vol sokkerhemde vier die verskillende spanne. ‘n Belangrike sokkerwedstryd gaan binnekort begin – in ‘n klein, moderne weergawe van ‘n Griekse amfiteater sit toeskouers voor ‘n muurgrootte TV en wag vir die afskop. Wat hulle van ons spulletjie gedink het wat oopmond tussen hulle en die TV deurgedrentel het, sal ek gelukkig nooit weet nie…

Ons dwaal by die Disney-winkel in. Twee lewensgrootte winkelpoppe staan in ‘n glaskas: Elsa en Ana. Daar is ‘n Disney-kasteel wat twee verdiepings hoog tot teen die dak strek. Ek gaan sit in ‘n klein spasie waar ‘n jong akteur besig is met sy day job as leier van ‘n Disneyparade, elke halfuur. Alle vrywilligers kry ‘n light sabre of ander veelkleurige speelding om te dra en hulle maak ‘n draai deur die winkel. Die maskers van Disney-karakters wat hulle opsit, mag hulle hou, maar die light sabres moet teruggaan rak toe. Amy en V kry elkeen ‘n verjaarsdagspeld, want hulle verjaar albei vandag.

NY verjaarsdagmeisies (2)

 

Times Square is nie ‘n groot plein soos Kerkplein nie, dis maar ‘n nou strook sement, omring deur wolkekrabbers met yslike veelkleurige video-advertensies teen hulle kante. Daar is ‘n klein pawiljoentjie waar moeë toeriste bietjie kan rus en die wonderlikste helderpienk plastiekbanke waarin mens kan gaan lê om gemaklik al die advertensies te bekyk sonder om jou nek te verrek. By nabetragting is ek spyt ek het nie self daar gaan lê soos die seuntjies nie, maar dis dalk ook maar goed so, want my stryd om weer uit daardie bank te kom, sou nie grasievol gewees het nie.

NY pienk banke

NY Times Square2

Laatmiddag gaan eet ons pizza in ‘n restaurant wat voorheen ‘n pragtige ou kerk was, enige tyd net so groot soos die katedrale wat ek in Jerusalem gesien het. Ek kyk op na die hoë koepel, omring deur loodglasvensters, en die galery waar die son se laaste strale deur nog gekleurde glasvensters skyn. Die orrel was seker op daardie galery, maar in plaas van gewyde liedere ruis daar nou die stemme van mense wat gesellig eet en saam kuier. Dit voel nie vir my verkeerd nie, miskien omdat hierdie eetplek, net soos ‘n werkende kerk, ook ‘n soort toevlug en versterking is?

Uiteindelik kry ons koers na die St James-teater, waar ons vanaand Frozen op Broadway gaan beleef. Ons klim en klim en klim trappe tot heelbo, waar ons balkonsitplekke is. Die steil afdraande trappe op die balkon maak my onrustig, gelukkig is daar stewige relings waaraan ek kan vasklou. Ons sit na aan die teater se sierlike kandelare, maar het ‘n wonderlike, onbelemmerde uitsig op die verhoog.

Die akteurs is briljant, die musiek pragtig, die spesiale effekte asemrowend. Sven die takbok se kostuum is ongelooflik slim – die akteur loop hande-viervoet, op stelte! ‘n Model van Olaf die sneeuman word deur ‘n aktrise in sneeumus en jas “bestuur” – sy praat namens hom en sy voete is aan hare vas; wanneer sy ‘n tree gee, loop hy saam.

NY Sven

NY Olaf

Die dansers is Broadway-fiks, of hulle nou lang wye rokke sierlik in ‘n baldans laat rondswiep, of kaalbas uit ‘n sauna uithardloop met net ‘n bossie blare wat die nodigste bedek (ek dink darem hulle het eintlik lyfkouse ook aangehad). Elsa en Ana se aangrypende verhaal ontvou, ys-stalagmiete skiet uit die planke uit op, ligpatrone speel orals, sneeuvlokkies warrel en die liefde oorwin.

NY curtain call

Laataand stap ons optoggie terug parkeergarage toe. Die strate is nou stil, behalwe vir mense wat uit teaters en restaurante op pad terug huis toe is. By die deur van ‘n restaurant staan ‘n groepie mense en ‘n manstem klink op, rustig en goed gekoring: “Look at all the little children!” Ons pak die lang pad aan, drie ure lank terug huis toe, met die maan wat soos ‘n suurlemoenskyfie bokant die horison hang…

Hierdie dag, hierdie wonderlike dag in New York, so op my eersgeborene se verjaarsdag, was een van die hoogtepunte van my lewe.