Die uwe doen nie die kamp-ding nie. Die een keer in my lewe wat ek roereier op ‘n oop hardekoolvuur moes maak, onthou ek veral weens die gevoel van verontwaardiging omdat daar ‘n goed toegeruste kombuis in die plaashuis op die bult was – waarvoor moes ek hier staan en verskroei word?

Toe my kinders dus sê hulle, die agt seuntjies en die hond gaan die naweek kamp en my saam nooi, het my moed in my skoene gesak. Ek was verniet bekommerd. G’n wonder my kinders noem dit “glamping” nie! (= glamour + camping)

Slegs tien minute se ry van die kampus af, met net die laaste 100 meter grondpad, staan daar ‘n yslike houtstruktuur – om dit ‘n log cabin te noem, sou ietwat van ‘n eufemisme wees.

Log cabin

Aan twee kante strek die kenmerkende woods van Pennsylvania: hemelhoë bome, op die oomblik winterkaal, met ‘n dik blaartapyt. Hier en daar het ‘n ou boom reeds omgeval; hier en daar groei nuwe jong boompies, wat gerieflike vashouplek bied aan ‘n ouma wat bietjie wil gaan verken. Ek het nooit tot by die stroompie daar ver onder gevorder nie, die afdraande was net te steil en die blaarmat te glibberig. Ek het wel tot by die seuntjies se fort gevorder.

Daar is ‘n yslike saal, met ‘n reuse-vuurmaakplek en ‘n kolossale ysterskoorsteen wat die rook opsuig en deur die dak vrylaat (nadat V&P uitgewerk het hoe om die kleppe te stel en dit met die een seuntjie se tou uit sy eiesoortige survival kit vasgebind het). Daar is houtbanke met groot wiegpote waar mens heerlik kan sit en wieg en in die vuur staar, of selfs lees as jy jou horende doof kan hou… Buite is die stompe opgestapel en die seuntjies dra entoesiasties hout en stokke vir die vuur aan.

Vuur op Camp Milton

Die kombuis het twee yslike plate waarop spek en eiers en roosterbrood gemaak kan word en ‘n gasstoof met ses plate. Daar is drie nywerheidsgrootte yskaste en ‘n vrieskas wat net so groot is. Huisouers, ouma en Honey die hond slaap in die een slaapkamer en in die slaapsaal betrek die 8 seuntjies elkeen ‘n dubbeldekkerbed, want daar is eintlik slaapplek vir 16. Twee badkamers, binnenshuis met warm water, op kamp? Dis ongekende luukse!

Ons was gelukkig met die weer – die hele naweek het die son helder geskyn, al was dit winterkoud. In elk geval was daar die alomteenwoordige binnenshuise verhitting.

Vrydag was dit al sterk skemer toe V, Honey, ek en twee seuntjies die huis gaan oopsluit – die ander was by ‘n skoolfunksie tot agtuur die aand. Die stadskindertjies was ‘n kostelike mengsel van avontuur en bang: “No, I don’t want to go first – there might be squirrels lurking over there!” “Did you see that? Was it Bigfoot??”

Saterdagoggend vyfuur laat ek Honey uit en sien die oggendgloor agter die gestroopte bome…

Die dag neem sy loop. V maak walking tacos – klein pakkies Dorito’s, verder gelaai met sloppy Joe-maalvleis, slaai en gerasperde kaas. Mens eet dit so uit die pakkie met ‘n plastiekvurk, en as jy wil, kan jy rondloop terwyl jy dit eet – vandaar die naam! Dis verstommend lekker… Daar is kuiergaste: seuntjies wat voorheen in V&P se huis was en toe moes skuif middle school toe (die kampus is in drie verdeel: elementary, middle, high school) en volwassenes van “Project Fellowship”, ‘n program wat werknemers van die Hershey-organisasie aanmoedig om by ‘n student home betrokke te raak. Die seuntjies gaan soek geskikte stokke en ons bak stokbrood oor die oop vuur in die voorste saal, gooi botter en jêm (in dié geval grape jelly) en nog kaas in die gaar broodjie – ‘n Suid-Afrikaanse Voortrekkertradisie wat V saam met haar gebring het. Saterdagaand is daar dikkors-pizza; Sondag eet ons ‘n heerlike brunch. Ek verstom my aan my meisiekind se organisasievermoë − ‘n hele naweek met die minimum skottelgoed en ons eet soos konings.

Met tussenposes speel P en die seuntjies ‘n hond uit ‘n bos uit, letterlik en figuurlik. Dan kom hulle yskoud en windverwaaid binne speel en opwarm. Daar is wonderlike wegkruipplekke vir binnenshuise wegkruipertjie: bo-op die yskas, plat in die seil-hangmat, opgekrul in ‘n leë asblik of kombuiskas. Dit gil en jil dat hoor en sien vergaan. ‘n Ruk later is die spulletjie weer buite, besig om laser tag te speel. Dan kom bou hulle legkaart of sit en lees of speel Twister, Sorry en ander speletjies. So vlieg die naweek verby – “And a good time was had by all.”