Goeie vriende van V&P nooi ons om Sondagaand, 3 Februarie by hulle aan huis na die Super Bowl-voetbaleindstryd te gaan kyk. Ek kyk slegs sport ter wille van die manne in my lewe en omdat P mal is oor American football, gaan ek geredelik saam. Ons word tuisgemaak op ‘n heerlik gerieflike sectional couch in ‘n gesellige TV-kamer. Daar is so elf stuks mense, party sit in die eetkamer vanwaar mens oor ‘n reling op die TV kan afkyk, een of twee ander sit op die vloer. Ons kry black bean salad en pulled pork sandwiches, met ice cream cookie sandwiches agterna. Dit was die aand wat ek die meeste nóg hier in die VSA geëet het! Die kos hier is alles net so ‘n tikkie anders en eienaardig: pancakes is eintlik plaatkoekies, sandwiches word dikwels met hamburgerrolletjies i.p.v. snye brood gemaak. Dis selde dat iets net een geur het – bid jou aan: chocolate banana bread! Die porsies is skrikwekkend groot, kyk net hier:
Die Super Bowl is seker maar die Amerikaanse weergawe van die Curriebeker, net so bietjie bigger ‘n better. Loftus Versfeld vat 51,762 mense; die Hard Rock Stadium in Miami waar hierdie eindstryd gespeel is, vat 62,417. (Saam met die TV-kykers het 99.9 miljoen mense glo die wedstryd gesien!)
Vir iemand wat op rugby grootgemaak is, is Amerikaanse voetbal ‘n eienaardige spel. V het eenkeer ‘n presentjie gekry, ‘n muurhanger wat sê: “Wine can make me care about football.” Nouja, wyn maak alles mos interessanter, maar ek is seker daar is nêrens ‘n muurhanger wat die volgende beweer nie: “Wine can make me understand football”! Die klomp manne lyn op in drie rye teenoor mekaar en een ou skiet die voetbal agtertoe tussen sy bene deur (kan iemand my sê hoekom?) om in die quarterback se hande te beland. Dan hardloop verskeie manne in verskeie rigtings en faait met mekaar en as mens gelukkig is, kan jy agterkom waar die bal hom nou eintlik bevind. Binnekort hou als op en die manne lyn weer op vir die volgende beginslag. Hierdie hortende gang het eers vir my sin gemaak toe P vir my verduidelik het dat die aanvallende span die bal ‘n sekere afstand vorentoe moet laat vorder (vriendelik met ‘n blou en geel lyn op die TV gemerk – dankietog!) en as hulle voor die tyd gekeer word, begin die hele spulletjie weer van voor af.
Die quarterback is die prima donna van die span – hy bepaal in groot mate die gang van die spel en gooi daai bal skouspelagtig ver om sy span in staat te stel om ‘n doel aan te teken. ‘n Doel kan aangeteken word deur oor die doellyn te hardloop met die bal in jou hande, of as jy platgetrek word, deur die bal tot anderkant die doellyn te kry. Ek mis rugby se triomfantlike duikslae oor die doellyn… ‘n Doel tel 6 punte en dan kry die span kans om die bal oor pale te skop wat amper soos rugbypale lyk – is dit oor, kry hulle nog 1 punt. Daar is nog verdere komplikasies met die puntetelling, maar dis heeltemal bo my vuurmaakplek. Ek geniet dit vreeslik om te kyk hoe skop die spulletjie – hulle het so ‘n snaakse, vloeiende styl van skop wat amper lyk asof hulle voete sywaarts onder hulle gaan uitgly, maar hulle val darem gelukkig nooit na ‘n skop nie. Andersins val hulle baie en hard! Die spelers dra helms en mondskerms wat soos fopspene aan die helm se kenbeskermer hang en swaai as hulle dit nog nie ingesit het nie. Quarterback Mahomes van die Kansas City Chiefs het ‘n deurskynende mondskerm gehad wat soos ‘n rytjie plastiek lyk wat so aan die een kant van sy mond uitgepeul het as hy dit loswikkel en wat hy gekou het tussen die speelslae deur. Hulle maak glo vir elke wedstryd ‘n nuwe ene vir hom, dus kan hy seker maar na hartelus herkou? Die ander quarterback Garoppolo trek nogal baie na ‘n bloedjong George Clooney. Op die ou einde het die Kansas City Chiefs die San Francisco 49ers 31 – 20 gewen, maar die spanne was min of meer ewe sterk en die wedstryd was eintlik hoogs opwindend.
My eie held Sam Elliot (diegene wat ons Towerinavonture volg, sal weet dat my liefie Silver op hom geskoei is, danksy VirgoC) het in een van die Super Bowl-advertensies gespeel. Volgens Google kos ‘n 30-sekondlange Super Bowl ad $5.6 miljoen!! Die advertensies is beroemd en maatskappye doen geweldige moeite om oorspronklike, skouspelagtige en treffende tonele te skep. Daar was selfs ‘n advertensie met fantasiekarakters in wat toe in die werklike lewe in die stadion ingehardloop het!
https://www.youtube.com/watch?v=6xVnq31Vk8Y
Nog iets wat groot belangstelling wek, is die halftime show, wat vanjaar deur Shakira en Jennifer Lopez behartig is. Soos my dogter agterna gesê het, kon ons eintlik na aanleiding van daardie name geweet het watter tipe vertoning op ons gewag het. Goeie musiek, puik dansers, mooi (en skrapse) kostuums was eintlik nie genoeg om die smaakloosheid van die ekshibisie (en ek gebruik dié woord doelbewus) te vermom nie. Na sowat vyf minute het ons gasvrou sagweg gesê sy het nou genoeg van crotch movements gehad en in die eetkamer gaan sit en gesels. Ek het bly sit en my bek het oopgehang. In die sosialemedia-debat na die tyd oor die vertoning, was een van die pluspunte dat dit glo die vrou as onafhanklike wese gevier het. Regtig? Deur sulke ekshibisionisme? Die snaaksste oomblik van die aand was toe ons gasheer droogweg oor Shakira se skrapse blinkertjiekostuum opmerk: “That costume must make a lot of noise in the tumble drier”.
Frannie, jy het my nou daar saam met jou laat beleef. Goddank die skrapses het nie ‘n wardrobe malfunction gehad nie😉
😀 Mense sou gedink het dis deel van die “show”!
🤣🤣🤣 Ek lees dit was vreeslik vleeslik en JLo het Oom Niek vereer, en dis die illumnati en, en, en. Hedonisme lyk mos maar so.
Weeeweeee, eks moeg gekyk vir jou part! Eers die manne met die breë skouers en dan daardie eina vertoning. Dis nou nie juis in my lyn nie, tog as mens in Rome is doen jy soos die Romeine. Dis lyk my n ooreetery daar waar jy is. Tog steeds bly jy het die geleentheid om alles te belewe.
Jy gee ‘n kostelike beskrywing van die kontras wat die kykers die aand beleef het. Ek kuier sooo lekker!
Oooo jy maak my hart sommer bly om te weet jy geniet die kuier. Dis nodig om weer perspektief te sien in die lewe.
Ek stem saam met jou idee van onsmaaklik. Hulle moet verstaan dat daar vrouens is wat ook kyk, en vir ons is dit onaangenaam om ‘n halfkaal vrou dop te hou. Lieflike beskrywing, lekker saamgekuier.
My kinders was die naweek af en het dus nie saam met hulle seuntjies in die “student home” na die wedstryd gekyk nie. Agterna het ons bespiegel oor hoe mens vir die kinders van “appropriate and inappropriate behaviour” sou moes verduidelik.
En is mens seker dankbaar dat jy nie tussen die kinders was nie.
Sjoe, daai porsies is yslik, Frannie, veral as hulle voor so ‘n klein mensie neergesit word! Dankie dat jy die voetbalondervinding beskryf het. Ek het ook al baie gewonder oor die spel waarvan ek niks verstaan nie en die Amerikaners wat hulle helde so entoesiasties ondersteun.
Ek eet man(vrou-?)moedig en is besig om te stoel…
Ons diet mos maar weer agterna
Ek het heerlik gelees en saamgekuier en sommer iets geleer ook, dankie tannie
Ag ek’s bly, onthou tog net ek het eintlik geen benul van al die reels van die spel nie!
Ek ook nie, maar tannie se verduideliking het so bietjie gehelp
Ai tog, die Amerikaners darem. Sê hulle nog so baie, drie keer in elke sin, “I was like. . .”? Maar ek het dit nou gelaaik.
SKote petoors! Nou dink ek ek weet ook hoe daai snaakse spel werk, maar dis beslis nie so opwindend soos boere rugby nie! OOr die skrapse damesklere kan mens maar net sug….maar ek hoor daai tjieng klap tjieng klap tjieng klap in die tumbledryer!!!.
😀 Jou klanknabootsing is kostelik! Moenie op my staatmaak vir die regte inligting nie, ek het eintlik geen benul van alles wat op die veld gebeur nie.
Hehe
Dis darem groot porsies waarvoor die Amerikaners so lief is! Ek dink ek verstaan ook nou die spel baie beter.
Ag ek is bly, maar onthou: “in die land van die blindes is die eenoog koning!” Daar gaan ongelooflik baie op die veld aan waarvan ek net mooi niks weet nie…
Ek kan dit dink! Geniet die kuier met jou kinders
Van sport weet ek niks en gaan nie eers probeer meer weet nie. Maar dit was interressant om te lees. Die kos lyk heerlik en tannie lyk pragtig
Dankie, Bondeltjies!
Nou het ek darem. lekker saam gekuier. Daai porsies is skrikwekkend en Amerikaanse voetbal sal my nooit “vang” nie. Die halftime show het ons hierdie kant ook net 2 weergawes gehoor. Of hoe fantasties en sexy en als hulle was, of hoe onsmaaklik en vulger. Die wereld se standaarde verval regtig teen die spoed van lig. En dat sy haar 11 jareige dogter saammet haar op daardie verhoog gevat het, is amper vir my die ergste. Jou lewe is regtig vol en interessant daardie kant
Vergaap my elke dag aan alles wat hier aangaan!
Sjoe, is die ‘n klein bordjie?
Dit lyk of jy baie pret daar het… geniet!
Dis groter as ‘n kleinbordjie, so middelslag.
Baie interessante belewenis, Frannie. Wat my die meeste afsit van sulke vulgêre vertonings, is die volume van die musiek wat my oordromme stukkend kerf.
😀 Ons kon gelukkig die TV se volume beheer!