Goeie vriende van V&P nooi ons om Sondagaand, 3 Februarie by hulle aan huis na die Super Bowl-voetbaleindstryd te gaan kyk. Ek kyk slegs sport ter wille van die manne in my lewe en omdat P mal is oor American football, gaan ek geredelik saam. Ons word tuisgemaak op ‘n heerlik gerieflike sectional couch in ‘n gesellige TV-kamer. Daar is so elf stuks mense, party sit in die eetkamer vanwaar mens oor ‘n reling op die TV kan afkyk, een of twee ander sit op die vloer. Ons kry black bean salad en pulled pork sandwiches, met ice cream cookie sandwiches agterna. Dit was die aand wat ek die meeste nóg hier in die VSA geëet het! Die kos hier is alles net so ‘n tikkie anders en eienaardig: pancakes is eintlik plaatkoekies, sandwiches word dikwels met hamburgerrolletjies i.p.v. snye brood gemaak. Dis selde dat iets net een geur het – bid jou aan: chocolate banana bread! Die porsies is skrikwekkend groot, kyk net hier:

Cinnamon roll

Die Super Bowl is seker maar die Amerikaanse weergawe van die Curriebeker, net so bietjie bigger ‘n better. Loftus Versfeld vat 51,762 mense; die Hard Rock Stadium in Miami waar hierdie eindstryd gespeel is, vat 62,417. (Saam met die TV-kykers het 99.9 miljoen mense glo die wedstryd gesien!)

Vir iemand wat op rugby grootgemaak is, is Amerikaanse voetbal ‘n eienaardige spel. V het eenkeer ‘n presentjie gekry, ‘n muurhanger wat sê: “Wine can make me care about football.” Nouja, wyn maak alles mos interessanter, maar ek is seker daar is nêrens ‘n muurhanger wat die volgende beweer nie: “Wine can make me understand football”! Die klomp manne lyn op in drie rye teenoor mekaar en een ou skiet die voetbal agtertoe tussen sy bene deur (kan iemand my sê hoekom?) om in die quarterback se hande te beland. Dan hardloop verskeie manne in verskeie rigtings en faait met mekaar en as mens gelukkig is, kan jy agterkom waar die bal hom nou eintlik bevind. Binnekort hou als op en die manne lyn weer op vir die volgende beginslag. Hierdie hortende gang het eers vir my sin gemaak toe P vir my verduidelik het dat die aanvallende span die bal ‘n sekere afstand vorentoe moet laat vorder (vriendelik met ‘n blou en geel lyn op die TV gemerk – dankietog!) en as hulle voor die tyd gekeer word, begin die hele spulletjie weer van voor af.

Die quarterback is die prima donna van die span – hy bepaal in groot mate die gang van die spel en gooi daai bal skouspelagtig ver om sy span in staat te stel om ‘n doel aan te teken. ‘n Doel kan aangeteken word deur oor die doellyn te hardloop met die bal in jou hande, of as jy platgetrek word, deur die bal tot anderkant die doellyn te kry. Ek mis rugby se triomfantlike duikslae oor die doellyn… ‘n Doel tel 6 punte en dan kry die span kans om die bal oor pale te skop wat amper soos rugbypale lyk – is dit oor, kry hulle nog 1 punt. Daar is nog verdere komplikasies met die puntetelling, maar dis heeltemal bo my vuurmaakplek. Ek geniet dit vreeslik om te kyk hoe skop die spulletjie – hulle het so ‘n snaakse, vloeiende styl van skop wat amper lyk asof hulle voete sywaarts onder hulle gaan uitgly, maar hulle val darem gelukkig nooit na ‘n skop nie. Andersins val hulle baie en hard! Die spelers dra helms en mondskerms wat soos fopspene aan die helm se kenbeskermer hang en swaai as hulle dit nog nie ingesit het nie. Quarterback Mahomes van die Kansas City Chiefs het ‘n deurskynende mondskerm gehad wat soos ‘n rytjie plastiek lyk wat so aan die een kant van sy mond uitgepeul het as hy dit loswikkel en wat hy gekou het tussen die speelslae deur. Hulle maak glo vir elke wedstryd ‘n nuwe ene vir hom, dus kan hy seker maar na hartelus herkou? Die ander quarterback Garoppolo trek nogal baie na ‘n bloedjong George Clooney. Op die ou einde het die Kansas City Chiefs die San Francisco 49ers 31 – 20 gewen, maar die spanne was min of meer ewe sterk en die wedstryd was eintlik hoogs opwindend.

My eie held Sam Elliot (diegene wat ons Towerinavonture volg, sal weet dat my liefie Silver op hom geskoei is, danksy VirgoC) het in een van die Super Bowl-advertensies gespeel. Volgens Google kos ‘n 30-sekondlange Super Bowl ad $5.6 miljoen!! Die advertensies is beroemd en maatskappye doen geweldige moeite om oorspronklike, skouspelagtige en treffende tonele te skep. Daar was selfs ‘n advertensie met fantasiekarakters in wat toe in die werklike lewe in die stadion ingehardloop het!

https://www.youtube.com/watch?v=6xVnq31Vk8Y

Nog iets wat groot belangstelling wek, is die halftime show, wat vanjaar deur Shakira en Jennifer Lopez behartig is. Soos my dogter agterna gesê het, kon ons eintlik na aanleiding van daardie name geweet het watter tipe vertoning op ons gewag het. Goeie musiek, puik dansers, mooi (en skrapse) kostuums was eintlik nie genoeg om die smaakloosheid van die ekshibisie (en ek gebruik dié woord doelbewus) te vermom nie. Na sowat vyf minute het ons gasvrou sagweg gesê sy het nou genoeg van crotch movements gehad en in die eetkamer gaan sit en gesels. Ek het bly sit en my bek het oopgehang. In die sosialemedia-debat na die tyd oor die vertoning, was een van die pluspunte dat dit glo die vrou as onafhanklike wese gevier het. Regtig? Deur sulke ekshibisionisme? Die snaaksste oomblik van die aand was toe ons gasheer droogweg oor Shakira se skrapse blinkertjiekostuum opmerk: “That costume must make a lot of noise in the tumble drier”.