Gaan lees gerus wat voorafgegaan het by hierdie skakel:

https://fresh.inlinkz.com/party/328bf9cee22c433eb83e0b56dc13fff7

Laatnag na Vuurvliegie se musiekaand stap die kluisenaar huis toe. Hy kies kortpad met ‘n nou kronkelpaadjie. Die maanlig blink op sy raafswart hare; die swaai van sy swart mantel beklemtoon sy lang, afgemete treë. Hy lag saggies as hy aan Camilla se verstomming dink toe sy hom sien, lag al hoe harder as hy onthou hoe hy Marco se lewelose liggaam oor die perd se saal by die paleis aangebring het. Die gelag ontaard in ‘n kraakgeluid: “krauw, krauw, krauw…” — waar is die kluisenaar nou? Die paadjie is leeg en die enigste beweging is ‘n geheimsinnige vlerkgeklap…

Dis die volgende aand, ‘n soel somersaand op Rebusfontein. Al die diere en kreature van hierdie magiese plek is op die Amfiteater se verhoog (eintlik ‘n “verlaag”) vergader. Die voorsitter is Hester se Ponsiekat, ‘n nuwe teenwoordigheid wat sommer in ‘n japtrap almal se vertroue gewen het. Sy roep die vergadering met ‘n lang, skerp “Miaaaaou!” tot orde: “Diere en kreature van Rebusfontein, ons is vanaand hier bymekaar om oor die kluisenaar te beraadslaag en te besluit wat ons te doen staan. Ek stel graag vir Geluk aan die woord.”

Kameel se kleintyd-kat Geluk staan op, strek haar lankuit en gaan sit dan met haar voorpootjies netjies langs mekaar en haar stert formeel om haar gevou: “Julle! Gisteraand na die musiekaand het ek gehoor hoe Camilla vir Lorenzo vertel dat sy vermoed die kluisenaar het haar geliefde man Marco vermoor deur ‘n kamstige ‘skietongeluk’! Die kluisenaar se naam is Alexander – hy is die ouer broer van arme Camilla se oorlede man…My liewe nooi Kameel moes deurnag by die snikkende Camilla sit en haar probeer troos, maar niks het gehelp nie…”

Ringo die towerhond knorblaf: “So dis hoekom ek heeltyd lus het om die ellendige vent te byt! Hoe op aarde het hy dit reggekry om ons almal na die tonnels te lok en daai storie van die VVV aan ons op te dis? Ons nonnatjies noem hulleself nou wel grappenderwys ‘Towerinne’, maar dis maar net omdat hulle eerste avontuur by die Toweropstal gebeur het.” Ringo se geknor raak al hoe harder: “Ek dink ons het hier met ‘n rêrige towenaar te make!”

Daar trek ‘n rilling deur die dierelywe – hoe het hulle hulself so laat mesmeraais deur die geheimsinnige inkommer hier in die vredige Rebusfontein? Hoe kon hulle glo dat hulle lank op hom gewag het nadat hy deur ‘n VVV ontvoer is en dat hulle hom nou met blydskap terug verwelkom?

Pasella, wat oor ‘n besonderse empatie met ander se gevoelens beskik, probeer almal kalmeer: “Ons moenie onsself verwyt nie – hierdie kluisenaar is ‘n opperste bedrieër, kyk net hoe draai hy al die Towerinne om sy pinkie! Wat ons wel moet doen, is om die vent uit Rebusfontein weg te jaag, hom so te laat skrik dat hy nooit, ooit weer terugkom nie.”

Nou kom Lelik aan die woord: “Julle weet ek’s lief om snags in die maanlig rond te sluip. Gisternag het ek iets vreesliks gesien: daai kluisenaar het in ‘n swart kraai verander! Ek het al agter hom aangeloop want sy mantel was vir my so mooi en toe…en toe verander daai mantel in groot swart vlerke en die ding vlieg op uit die paadjie en kraakskreekekkel so dat my arme ou stomp ore dit nie kon hou nie!”

Quasimodo, erelid van Rebusfontein se dierebende, vra opgewonde: “Is jy seker jy’t ‘n kraai gesien? Was dit nie dalk ‘n raaf nie?”

Lelik draai haar kop skeef: “Umm, watse dinges is ‘n raaf, Quasi?”

“Dis ‘n Europese voël wat baie na ‘n kraai lyk, maar hy’s effens groter, met ‘n dikker, effens gebuigde snawel. As hy vlieg is sy stert driehoekig waar ‘n kraai se stert soos ‘n waaier lyk. Hy maak ‘n lae, krakerige geluid. Volgens die Griekse mitologie is hy ‘n bedrieër en ‘n simbool van onheil.”

Raaf(File:CorbetArms.JPG (wiki commons), Public Domain, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=21875094)

Kieterkat blaas van ontsteltenis: “Ggggggggg!! Die kluisenaar het ‘n Griekse naam – Alexander! Onheil op Rebusfontein, boosheid in veregedaante!”

Die diere bars los, elkeen met sy eie onthutste geluid. Al die honde blaf, Ringo knor vreesaanjaend, Pasella en Porkie maak skril skreegeluide, die katte sis en blaas, Billy blêr ontsteld en Blommetjie die koei moe vreeslik.

Van bo uit een van die hoogste dennebome kom ‘n grasieuse gestalte aangesweef en land met ‘n harde klik van sy lang naels op die stene van die amfiteater. Hy vou sy yslike donkergrys vlerke netjies toe en vra ‘n spreekbeurt met ‘n sagte maar deurdringende skreegeluid. Die lang vere op sy kop is oopgesprei.

HARPY

Die diere raak stil voor hierdie indrukwekkende verskynsel: “Diere van Rebusfontein, julle weet dat ek hier ‘n holte vir my kloue gekry het en dat julle aanvaarding my uit die afgrond van wanhoop teruggebring het. Daarvoor is ek julle en ook die Towerinne oneindige dank verskuldig! My naam Harpy kom ook uit die Griekse mitologie – die harpies was die geeste van skielike rukwinde, roofvoëls met mensgesigte wat gestuur is om boosdoeners te straf en van die aardbol af te laat verdwyn. Julle kan met gerustheid die opdrag om die kluisenaar vir altyd uit Rebusfontein te verdryf, aan my oorlaat. Daar is egter een voorwaarde: ek gaan dit slegs regkry as hy in sy raafgedaante is, want as mens sal hy homself te goed kan teensit. Julle sal my moet help deur die vent dop te hou sodat ons weet wanneer hy weer in ‘n raaf verander het.”

Nogmaals weerklink die dieregeluide oor die halfmaan van die amfiteater, dit knor en blaf en fluit en skree en miaau en blêr en moe dat hoor en sien vergaan. As die goedkeurende applous bedaar het, antwoord Ponsiekat formeel: “O Harpy, dapper arend, ridder van die lugstrome van Rebusfontein – dankie dat jy bereid is om hierdie stryd namens ons en ons nooiens te stry! Ons sal jou bystaan na die beste van ons vermoë…”

Vuurvliegie, sal jy asseblief verder vertel?