Laasjaar is my dogter se geliefde hond Daisy oorlede. My blogmaats se trooswoorde het oneindig baie vir ons beteken in daardie hartseertyd.

Dit was nie lank nie, of V het aanlyn begin soek na ‘n nuwe hondekind om aan te neem – en ag, watter juweel het sy ontdek! Die aanneming was ‘n lang proses, want V moes seker maak dat die hond goed was met kinders, terwyl die wonderlike mense wat by die toevlugsoord na diere omsien, weer vir V&P moes deurkyk. Eendag het V drie van haar seuntjies saamgevat en die uurlange ent pad gery om die hond te gaan ontmoet. Ag, watter vreugde! Die seuntjies was hoog in hulle skik en die hond ook. Toe die hond ‘n paar dae later na die “student home” gebring is vir ‘n proefbesoek, was die prognose so goed dat die hond sommer gebly het!

Die hond was toe twee jaar oud, met ‘n hartseer geskiedenis: sy is deur ‘n gewetenlose hondeteler in ‘n beknopte hok aangehou om werpsels hondjies voort te bring. Toe iets verkeerd loop en sy nie meer hondjies kon kry nie, is sy na ‘n veearts gevat om genadedood toe te pas. Goddank vir die veearts-assistent wat die toevlugsoord gebel het om die hond te kom haal! So het die liewe hond ‘n nuwe lewe begin en ‘n nuwe naam gekry: Honey.

Honey sielvolle ogies

Honey is ‘n kruising tussen ‘n Chesapeake Bay retriever en ‘n Weimaraner. Sy is ‘n groot hond met ‘n harige lyf, waterdig nogal, en ‘n kop en ore van die fynste, sagste fluweel. Sy is ‘n ligte sjokoladebruin en haar winterpels kry so ‘n silwer glans. Haar oë is die kenmerkende liggroenbruin kleur van die Weimaraner en sy het die gewebde pote van die CP retriever. Hoe hartseer is dit dat sy nooit leer swem het nie! Die een keer wat sy in V&P se swembad ingespring het, het sy soos ‘n klip gesink. Ons het dit oorweeg om vir haar ‘n reddingsbaadjie aan te skaf – daar is juis so ‘n oulike ene met ‘n haaivin op die rug – maar P het dit geveto.

Sy kan haarself in ‘n verstommende klein bondel opvou om op V&P se sitkamerstoele te kan lê, of andersins strek sy haar behaaglik uit op die gestoffeerde bankie, met die een agterpoot wat uit pure behaaglikheid afhang. Ek verkneukel my in die verskillende swierige maniere waarop sy daardie yslike pote rangskik of vou, asof dit die fynste hondepootjies ooit is.

Honey pootjies

Sy is die sagmoedigheid vanself, ‘n regte “Honey” van ‘n hond. Sy begroet mens graag met iets in haar bek – hetsy kous, handskoen of een van haar wettige speelgoeddinosourusse – en rol summier om sodat mens asseblieftoggie haar ou maag kan vryf. Sy mag nie in die “student home” self kom nie, maar smiddae as ons stap om die kinders by die skool te gaan haal, stap sy saam en as hulle buite speel, mag sy uit die huisouers se woonstel kom om saam buite te gaan baljaar. Dis baie interessant om die verskillende reaksies op die groot ou hond te sien terwyl ons buite die skool vir die seuntjies staan en wag. Die ware hondeliefhebbers kom krap graag haar kop en vertel haar hoe oulik sy is. Die kinders moet eers vra voordat hulle ‘n hond mag streel. Party kinders hou net verby (ek sou een van daais gewees het, synde ‘n katmens). Ander vra mooi beleefd: “May I pet your dog?” En dan is daar die kinders wat hulleself net nie kan inhou nie, reguit op die hond afpyl en haar begin streel, ten spyte van die reël dat hulle eers moet vra. Honey laat haar dit alles welgeval, te midde van die bruisende energie van die klomp laerskoolkinders wat by die skooldeur uitstroom en koers kies na hulle huisouers toe.

Sy blaf baie selde. Wanneer sy buite was en weer wil inkom, gee sy net een blaf buite die skuifdeur van V&P se huis. Op die kampus word sy slegs aan ‘n leiband buite toegelaat. Gister het sy die jong japsnoet van ‘n brak (pikswart en reeds yslik) wat ook kinders kom haal het, gewaarskublaf om sy meerderes te respekteer – dit terwyl hy maar net wou groet. Die enigste ander keer wat ek haar al ooit hoor blaf het, was toe ek na ‘n video gekyk het waarop ‘n ander hond geblaf het. Ummm…dit was laataand en ek was in my kamer, het nie gedink ek sou so ‘n steurnis veroorsaak nie!

Ek is nie ‘n goeie ouma nie – het Honey al ‘n “nuisance” genoem, tot groot ontsteltenis van my arme dogter. Honey mag nie op my bed lê nie, maar ai, wanneer ek laataand op V&P se bed sitlê om TV te kyk en die liewe ou hond strek haar lankuit met haar swaar kop op my bobeen, wonder ek of ek nie maar die verbod moet heroorweeg nie. Dis net – sy is so groot en swaar en besig en daardie nat tong lek mens so deur jou eet-en-drink… Katte het soveel meer waardigheid, hulle lek en knibbel en vroetel en waai nie hulle sterte so besimpeld nie!