Die weer hier in Pennsylvania, USA verstom my van dag tot dag. Een oggend was die bome se kaal takkies eienaardig duidelik afgeteken: dit was yskristalle wat aan elke enkele takkie vasgeklou het. Volgens my dogter sien mens dit nie dikwels nie en so teen elfuur was alles reeds gesmelt.

Een grou dag reën en reën dit heeldag – sulke sagte, vet druppels – en ek wens ek kon van die baie water aanstuur na my geliefde droë vaderland…

Die temperatuur daarbuite huiwer maar so rondom vriespunt. Op die seil wat V&P se swembad bedek, lê ‘n poel water waaraan ek nogal goed kan sien hoe koud dit daarbuite is: vriespunt en die water is ys; effens warmer danksy die genadige son wat heel dikwels hier skyn, en die water is maar weer net water.

Wanneer die helder winterson skyn, speel almal buite in die koue en juig oor die “good weather”. Newwermaaind dat die wind partykeer so koud is dat mens se ore gaan pyn as jy nie ‘n mussie ophet nie. Op sulke dae stap die kinders skooltoe en terug. Ek stap soms smiddae saam om hulle te gaan haal. Die kampus is skilderagtig mooi, met voetpaadjies wat oor ampergroen gras onder die pragtige ou bome kronkel – bome wat steeds mooi is, al is hulle kaalgestroop.

Vir iemand wat eers hier in die VSA vir die eerste keer rêrige-êrige sneeu gesien het (dit was ses jaar gelede) bly dit ‘n verstommende wonderwerk.

So twee weke gelede was daar behoorlike sneeu. P en die agt seuntjies in hulle “student home” het buite in die sneeu gaan baljaar – my eie moed het my egter begewe. Toe dit al donker was, het die jongste seuntjie nog steeds soos ‘n groot hond daarbuite in die sneeu rondgerol en baljaar.

Die weervoorspellings is presies en in die kol: sneeu van so twee tot drie duim teen tussen nege en tien Saterdagoggend word twee dae vantevore voorspel en mens kan maar weet dit gaan net so gebeur. Vrydagmiddag vyfuur sak die son…

Sonsondergang

Saterdagoggend begin die sneeu val en binne ‘n uur of twee het ‘n lorrie-met-‘n-sneeuploeg reeds met roekelose spoed die voorstedelike straatjie voor V&P se huis skoongeskraap. My kinders het die naweek af – goeie tydsberekening, want agt seuntjies se binnenshuis-vasgekeerde energie is nogal ‘n uitdaging en nou sal die aflos-“house parents” dit dié slag hanteer.

Die sneeu val sagweg en bedek die aarde verstommend vinnig. Fyn en vetter vlokkies warrel neer terwyl ons heerlik knus hierbinne sit, ewe vroom in die wete dat ons op die oomblik niks anders hoef te doen behalwe om die skouspel te geniet nie. Later is dit natuurlik ‘n ander storie, voordat die sneeu in ys verander: die breë oprit en die paadjie na die voordeur, asook die houtstoep en relings, sal skoongeskraap moet word – harde werk, soos wat ek drie jaar gelede aan eie lyf gevoel het! Volgens wet mag mens nie bestuur sonder dat jy eers die sneeu van jou motor verwyder het nie, want dit kan afvlieg en die motoris agter jou tref. P, met sy kenmerkende praktiese deeglikheid, lig die motors se ruitveërs voor ‘n sneeuval op, sodat hulle so punt-in-die-wind staan – dit maak dit makliker om die sneeu van die windskerms af te skraap. In elke motor is daar ‘n sneeuskraper en die sneeugrawe staan slaggereed op die stoep. Een van V&P se vriende het op ‘n plaas in Kanada grootgeword. Toe ek hom vertel hoe mooi die sneeu vir my is, gee hy sy oorwoë mening: “It’s beautiful to look at, but hard to deal with.”

Die kans dat twee sneeuvlokkies presies eenders gaan wees, is glo een uit een miljoen triljoen. Weerkundiges dink dat sneeuvlokkies een triljoen triljoen triljoen (1 000 000 000 000 000 000 000 000 000 000 000 000) verskillende vorms kan hê. Vir my is dit dieselfde as “ontelbaar”. As ek so na die warrelende vlokkies sit en kyk, en ek dink aan die wonder van die ontelbare verskeidenheid vorms, kom ek naby daaraan om die konsep van die ewigheid te kan begryp. Buite is die wêreld spierwit en die woorde “witter as sneeu” draai in my kop…

Sneeu 2020