Liefste Meisiekindjie,

Jy hurk vir mamma se foto, handjie op die kat se kop, langs jou yslike nuwe skooltas, uitgedos in jou nuwe skooldrag: spierwit hempie, moulose truitjie met die skoolwapen, grys rompie, blinkswart skoentjies met bandjies en gespes, haartjies gevleg met ‘n groot geel strik op jou koppie. Nooit gaan daardie mondering weer so spiksplinternuut wees nie! Teen vanmiddag gaan daar skifmerke op die skoentjies wees, die rompie vol stof, die hempie nie meer netjies ingesteek nie. En dis ook reg so! Want jy het die dag voluit getakel en deurleef.

Ouma is so bitterlik baie lief vir jou. Mag daardie vrolike glimlag (wat die haasbekkie so mooi tentoonstel) tog nooit vervaag nie. Mag jy altyd weet op Wie jy kan vertrou. Wees geseënd, o punt van my hart.