Vir Kameel, wat gehoop het dat ek nie te veel verlang nie.

Vandag kuier ek ‘n kalendermaand lank reeds by my kinders in Pennsylvania, VSA. My dogter het ‘n Amerikaner liefgekry, in die kerk van sy jeug met hom getrou en aan ‘n nuwe lewe in die vreemde begin bou – sy, wat so lief is vir die landskappe en die mense van Suid-Afrika!

Maklik was dit sekerlik nie, maar sy was nog altyd ‘n moedige mens. Natuurlik is daar die liefde en ondersteuning van haar kosbare man. Sy het ook ‘n besondere gawe om na mense uit te reik, iets wat haar pad gelyk gemaak het. Hoe soet klink die Amerikaanse aksent in ‘n ma se ore wanneer jy as “V’s mom” voorgestel word en jy hoor telkens: “You have a lovely/wonderful daughter”!

Die gruwelike bederwery begin reeds toe ek op JF Kennedy Airport deur die deure van die aankomssaal stap en my kinders my met ‘n gejuig begroet. Ek kry ‘n sagte duvet en twee kussings agter in die motor om die drie-uur-lange rit van New York af ná 16 uur in die vliegtuig te deurstaan, maar watwou – ek het so lekker gevlieg dat ek kiertsregop die panorama sit en bekyk: eers Brooklyn en Queens, New Yorkers op voetsoolvlak met die ikoniese wolkekrabbers van New York op die agtergrond, en daarna die mooi woude van die platteland. Dis winter, die bome is kaalgestroop, maar die silhoeëtte is ongelooflik mooi.

V&P is huisouers by die Milton Hershey School, ‘n nalatenskap van die sjokoladebaron Milton Hershey wat sy hele rykdom bemaak het om ‘n skool vir minderbevoorregte kinders te vestig en te onderhou. Die kinders, van elementêre tot middel- en hoërskool, woon op kampus in yslike “student homes”, so agt tot tien óf seuns, óf dogters van naastenby dieselfde ouderdomsgroep per huis. Twee kinders deel ‘n slaapkamer; daar is ‘n rekenaarkamer, sitkamer, eetkamer en kombuis van industriële proporsies. Die lekkerste is die “rec. room”, ‘n reusagtige ruimte waarin V&P se agt seuntjies (hulle ouderdomme strek van 7 tot 11 jaar) binnenshuise sokker en hokkie speel dat hoor en sien vergaan. In die winter is hierdie ruimte onontbeerlik, want buite draai die temperatuur dikwels om vriespunt. Die huisouers het ‘n kantoor in die huis self en ‘n aangrensende “apartment” met drie slaapkamers – dis waar Ouma, soos die seuntjies my noem, haar eie kamer het. Dankietog daarvoor, want die energie van hierdie klompie maak dat ek dikwels rus en stilte nodig het! Saans sit ons almal om die lang eetkamertafel aan en ‘n seuntjie trek my stoel vir my uit. Watter voorreg – al word daardie stoel met soveel entoesiasme weer teruggestoot dat ek tussen tafelblad en rugleuning vasgedruk word.

Die geleenthede en fasiliteite is eenvoudig verstommend. As ‘n kind ‘n instrument wil leer speel, kry hulle lesse en die instrument op bruikleen. In V&P se huis is daar ‘n saksofoon- en fluitspeler. Ons het na die “band concert” gaan luister – junior- en senior-primêre kinders met miniatuur-tubas, trombone, perkussie, en ja – saksofone en fluite. Wat die lotjie aan musikaliteit kortgekom het, het hulle voor opgemaak deur foutlose, entoesiastiese spel. (Heimlik is ek innig dankbaar dat ons nie ‘n aspirant-violis in die huis het nie…)

Daar is ‘n binnenshuise verhitte swembad van olimpiese grootte. Ek huppel heerlik deur die water terwyl my meisiekind soos ‘n besetene in die baan langsaan swem. Dan onthou ek die middae by die laerskoolswembad toe sy leer swem het en na die les soos ‘n bibberende, halfverdrinkte diertjie haar handdoek kom haal het. P rig ‘n basketballspannetjie af en ons gaan kyk een Saterdagoggend na hulle eerste vriendskaplike wedstryd. Drie van “ons” seuntjies speel in die span. V sê droogweg dat P sal moet werk aan sy “coach face” – die liewe man is so mededingend van aard…

Ons eet brunch saam met die Grinch waar daar letterlik “green eggs ‘n ham” aan al die kinders en ander gaste bedien word.

Grinch

Ons geniet ‘n puik “Christmas concert” waaraan al die laerskoolkinders deelneem. Ons woon die “house parents’ church service” by en sing “O come, o come, Emmanuel”… Dan is dit tyd vir “Christmas break” en ons gaan bly vir 17 dae in V&P se huis, so tien minute se ry van kampus af.

Hoe bevoorreg is ‘n mens, as daar drie pragtige Kersbome is om jou orals te herinner: “Dis Kersfees!”

Hier in V&P se huis het V “my” kamer voorberei – die wonderlikste liefdesgebaar. Sy het talle foto’s van my kinders en kleinkinders uitgesoek, met sorg geraam en teen die mure gerangskik. Ek woon hier omraam deur my dierbares; dis asof sy wou sê: “Kyk, Mamma, kyk watter rykdom het Mamma – en ja, Mamma mag maar na die kleinkinders verlang…”

100_2999

100_3001