Dis die naam van een van Karel Schoeman se boeke. Die afgelope tyd is dit ‘n goeie opsomming van my dae.

Een vir een groet ek my goeie vriendinne – smartlik alleen staan die een laataand voor haar motorhuis vir my en waai as ek huis toe ry; met ‘n ander een voer ek ‘n aandoenlike afskeidstoneel buite ‘n koffiewinkel op. Dis eintlik onmoontlik om met mense te praat, om te sê wat hulle vir my beteken, want my trane sit vlak.

Langer as vyf maande se kuier met my kinders in die VSA lê en wink – oor ‘n paar dae klim ek op die vliegtuig na ‘n eerstewêreldse land waar ek gruwelik bederf gaan word. Maar o, hoe gaan ek die kindertjies van hierdie huishouding mis! En die maer lyfie van my ou lelike wit kat wat snags teen my kom snoesel.

Afskeid, vertrek en verskeurdheid…