10 November is my pa se geboortedag. Hy is 44 jaar gelede al oorlede, maar my herinneringe aan hom bly vars en helder.

Hy was die enigste man wat my onvoorwaardelik en inniglik liefgehad het. Aan hom het ek my Godsbeeld te danke: die beeld van ‘n liefdevolle, sorgsame Vader, ‘n beeld wat my steeds staande hou as die lewenstorme woed.

Ek sien nou nog hoe my pa die tuinslang gevat en die stadsroet en stof van my splinternuwe karretjie afgewas het, die eerste naweek toe ek met daardie rooi Volkswagenkewer by die huis gaan kuier het. Lank voor dit, toe ek nog ‘n kind in die huis was, het ek eendag op hom afgekom waar hy besig was om ‘n taai kol op ons motor se agtervenster met ‘n natgelekte vinger af te vryf. Half verleë het hy verduidelik: “Spoeg help vir alles.” Ek het daardie wenk met my saamgedra en dikwels toegepas, as ek ‘n gekneusde duimpie gesuig of die krapmerke van ‘n kat met spoegies gedokter het.

My pa was gesinsman en versorger. Hy het my mammie op die hande gedra. Nege en twintig jaar lank het ek geglo dat ek ook in ‘n goeie huwelik geborge was. Toe nou níé…

Ag Pappa, spoeg help nie vir ‘n seer hart nie!