le-jou-eier1-e1512926357627

Vroegaand sit Frannie alleen onder op die Rebusrus Amfiteater se verhoog en ween hartstogtelik… Die wind suis mistroostig deur die dennebome; danksy die goeie akoestiek trek haar snikke ver oor die dorpsmeent en sny deur murg en been. Haar ou kat Lelik het ‘n rukkie lank probeer troos en toe heeltemal moed opgegee en verdwyn.

100_2434

Die affêre met Eden se biblioteek en die gruwels wat daar tevoorskyn gekom het, het Frannie se brose toevlugsoord hier op Rebusfontein geskud. Hoor net wat prewel sy alles: “Ag Klara jou arme, arme ou meisietjie…so lief vir jou mamma Sophia en jou pappa Joseph en jou boetie Thomas…so sensitief en vrygewig, ag, en waarom moes jou verhaal so hartseer wees…jou naam beteken ‘helder, stralend’…en toe skuif daar ‘n  donker wolk oor al jou vreugde en belofte…”

Een vir een kom die Towerinne uit die skaduwees nader. Una gaan sit en slaan haar arm om Frannie se rukkende skouers. Kameel sink aan die ander kant neer en huil saam, sodat die papier in haar hande met die storie van die donker wolk oor Klara sommer sopnat van die trane raak. Bondeltjies sit ‘n entjie verder en snik saggies. VirgoC staan nader met plantaardige vlugsout en Hester skink ‘n stewige dop Frangelico vir die armsalige vrou wat so die kluts kwyt is. Positief en Christa koukus eenkant oor hoe op aarde hulle hierdie histerie tot bedaring kan probeer bring, terwyl Trommeltjies ‘n pakkie snesies voor die wenende vrou neersit. Seegogga vang die atmosfeer van Griekse tragedie vas met ‘n wonderlike skets en Perdebytjie neem foto’s van die kring besorgde gesigte. Woordnoot knik goedkeurend – dis hoe sy die Towerinne ken, een vir almal en almal vir een! Toortsie soek in haar sakke na ‘n daggakoekie – liewers ‘n bedwelmde Frannie as hierdie huilende een. Scrapy tik Frannie op die skouer: “Jy sê altyd skryf is terapeuties, dalk moet jy gaan skryf – jy weet dis jou beurt, nè?” Vuurvliegie tik Frannie op die ander skouer: “Ek het nou net ‘n boodskap van Ringo gekry, jy word dringend in jou ivoortoring benodig.”

Frannie staan op en strompel na haar huisie met die ivoortoring met al wat ‘n Towerin is, agterna. Skryf help mos altyd. Dalk is Scrapy reg, as sy die storie probeer verder skryf, sal sy beter voel… In die toring sit Lelik en Ringo, Vuurvliegie se plaaslike towerhond wat kan praat – Lelik moes hom gaan haal het om te kom tolk, want Frannie kan sien haar kat het groot nuus om te vertel.

In sy blafferige stem tolk Ringo wat Lelik te sê het: “Liewe Nooi, dis niks lekker as jy so hartseer is nie, toe gaan kyk ek maar daarso by daai huis met die stowwerige bibbeloteek of ek iets kan gaan uitvind. Sit nog so innie tuin byrie put, toe kom twee mooi bont katte aangesweef. Ek skrik g’n niks nie, want ek’s ook mos ‘n kat, al kan ek nou nie sweef nie! ‘Wie’s julle?’ vra ek ewe dapper. ‘Ons is die geeste van klein Thomas se katte!’ miaau hulle terug. En toe begin hulle vertel…

thomas en sy katte

Deur Ringo en Lelik en die bont katte se verhaal word die Towerinne teruggevoer na die oggend van Klara se 16de verjaarsdag:

Klara word wakker met heerlike afwagting in haar hart. Dis haar verjaarsdag! “Sweet sixteen and never been kissed…” Die son skyn helder daarbuite en sy trek die swaar fluweelgordyne oop sodat die vrolike strale by haar kamer kan inkom. Haastig trek sy aan, heel eerste wil sy na haar verjaarsdagkoek gaan kyk. Sy huppel die trappe af en hardloop kombuis toe, waar mev Marks nou net die laaste pienk versiersuikerrosie vasplak.

koek 3

Klara snak na haar asem: “O, tannie Marks, dis so, soo mooi! Baie dankie!” Sy vlieg om die tafel en gryp die kok vas,  gee haar ‘n stywe drukkie. Mev Marks is nou nie eintlik een vir sulke stuitigheid nie, sy pluk haar voorskoot reg: “Ja, ja, toe nou, dis sommer niks.” “Sommer niks! So ‘n pragtige koek! En ek weet dit gaan net so lekker smaak as wat dit mooi is! Kan ek die snye koek gaan uitdeel, kan ek, kan ek ‘seblief?” (Die twee in die kombuis weet sy wil graag ‘n stukkie koek vir Charlotte, gevangene in die kelder, vat… Sy kuier mos hoeka daar by hulle dogter. Dis seker maar die bloedband wat maak dat Klara so lief is vir “arme tannie Charlotte”.) “Ja, maar eers nadat hulle halfelf die koek formeel in die eetkamer gesny en vir jou gesing het,” kom dit van die houttafel af waar mnr. Hardy sit. “Geluk met jou verjaarsdag, Klara. Jy’s nou oud genoeg om die waarheid te hoor oor die mense hier op Eden en ook oor jou en Thomas. Kom sit hier by my dat ek jou kan vertel.”

Skoorvoetend kom Klara nader, trek die stoel uit wat die verste van mnr. Hardy af is en gaan sit, terwyl sy vraend na hom kyk. Mev. Marks verdwyn stilweg uit die  kombuis.

‘n Man wat toelaat dat sy dogter gevange gehou word, het geen empatie nie; hy stel dit wat hy wil sê sonder enige poging om die skok te versag:

“Sophia is nie jou en Thomas se ma nie, Charlotte is.”

“Ekskuus…wat? Mnr Hardy…?”

“Charlotte is julle ma. Sophia het ingewillig om julle aan te neem omdat sy so graag wou kinders hê. Charlotte is my en mev. Marks se dogter – dit beteken ons is jou en Thomas se oupa en ouma.”

“En my pa? Wie’s my pa dan?” Klara se stem is hoog en dun, die trane loop oor haar wange.

“Nee, Joseph is wel jou pa, Klara. Kom, kalmeer nou – dis glad nie so erg nie…”

“Glad nie so erg nie! Glad nie so erg om 16 jaar lank voor GELIEG te word nie?!”

Klara storm by die kombuis uit, hardloop die trap op na Sophia se kamer en val snikkend op Sophia se bed neer. “Mamma, Mamma, mnr Hardy sê…mnr Hardy sê jy’s nie my ma nie!!”

Sophia stut haarself met sagte donskussings teen die koppenent – sy vrees lankal hierdie oomblik, sy het geweet dit gaan kom. “Klara, wag nou, wag nou, my liefie. Ek IS jou mamma in alles behalwe die feit van geboorte. Ek het jou versorg van jou eerste dag op hierdie aarde en jou nog altyd so lief gehad soos enige ma haar kindjie kan hê.” Sy streel die blonde krulle wat ruk soos Klara snik. Lank sit hulle so, totdat Klara uiteindelik bedaar. Sy skuif nader aan Sophia, slaan haar arms om haar ma en snuif Sophia se eiesoortige geur diep in haar longe in. “Ag, ek is lief vir jou ook – maar wat gaan ek nou maak? Kan ek jou maar nog Mamma noem? En wat van Thomas – mnr Hardy sê hy’s ook Charlotte se kind?”

‘n Enkele traan rol oor Sophia se wang. “Ag Klara, moenie nou al vir hom vertel nie? Gun hom maar nog ‘n paar jaar van geborgenheid soos wat jy gehad het? Belowe my, belowe my jy sal niks vir hom sê nie, asseblieftog my meisiekind…” Klara sug, diep en gebroke. “Ja, ek verstaan hoekom Mamma dit vra…Goed, ek sal niks vir hom sê nie…” “Dankie my kind. Kom, droog af jou trane – mens se 16de verjaarsdag moet ‘n dag van vreugde wees! Kyk wat het pappa en ek as geskenk vir jou uitgesoek.”

Sophia stap na haar spieëlkas en lig die diamanttiara versigtig van die hoedestaander af. Sy plaas dit op Klara se krulle en trek haar asem in: “Hoe mooi is dit! Kyk hoe skiet die diamante reënboogvonkies die hele kamer vol! Klara, ek en jou Pappa wil hê dat jou lewe so moet vonkel en skitter soos hierdie tiara. Bewaar dit veilig en dra dit met vreugde!”

Tiara

Van daar af het die dag sy loop gekry. Klein Thomas het vir haar ‘n musiekstuk gegee wat sy lankal wou hê; tannie Isabella het ‘n metronoom oorhandig, met die wens dat dit Klara se klavierspel ‘n hupstootjie sou gee. Die pragtige koek het heerlik gesmaak en Klara het vir Charlotte ‘n groot stuk kelder toe gevat.

Joseph het nie huis toe gekom vir die verjaarsdagviering nie en Leonard was ook afwesig.

‘n Paar dae later besef Sophia dat daar groot fout met Klara is. Sy is lusteloos, wil nie met Thomas speel nie,  vermy dit om by tannie Charlotte in die kelder te gaan kuier. “Klara, jy was laas op jou verjaarsdag by Charlotte, toe jy vir haar die sny koek gevat het. Wil jy nie asseblief maar gaan kyk hoe dit met haar gaan nie? Noudat Joseph weg is, is sy die heeltyd daar in die kelder toegesluit, dit moet vir haar verskriklik moeilik wees.” Klara sug, maar sy weet Sophia is reg – iemand moet gaan kyk hoe dit met Charlotte gaan.

Toe die meisie by die kelder ingaan, sien sy Charlotte doodstil op die vloer lê, met haar kop onnatuurlik skeef gebuig. “Tannie Charlotte? Tannie…o, nee, nee, NEE!”  Hierdie skok is te veel vir haar en waansin neem oor. Al waaraan sy kan dink, is Thomas se sketse teen die muur en dat sy hom nóú moet vertel wat sy laasweek oor hulle gesin geleer het. Sy vergeet heeltemal van haar kalm belofte aan Sophia, hardloop na Thomas se kamer toe en gryp die seuntjie aan die hand. Sy sleep hom saam na die tonnel waar hy sy vrolike prentjie van hulle gesin teen die muur geteken het.

“Boetie, nou moet jy LUISTER!” skree-huil Klara. Sy trek Sophia se naam dood met die breëpuntkoki wat sy van Thomas se tafeltjie af gegryp het en skryf Charlotte daaronder. Dan verander sy die vrolike glimlaggies in vertrekte swart lippe met mondhoeke wat na onder wys. “Ons mamma is nie ons mamma nie!! Tannie Charlotte is ons ma – of nee, wag, sy wás ons ma…” Met die koki krabbel Klara wild oor die figuur van die mamma en raak histeries aan die lag. Teen dié tyd is Thomas so ontsteld oor hierdie vreemde sussie en die vreeslike goed wat sy sê en doen, dat hy hartverskeurend begin huil. Dit ruk Klara gelukkig tot stilstand. “Wag, wag boetie, moenie so huil nie…kom jy en ek gaan verander die inkleurprent van die familiestamboom waaraan ons laasweek gewerk het, sodat dit DIE WAARHEID kan wys!” Sy sus Thomas so ‘n bietjie en lei hom dan weer uit die tonnel na sy kamer, waar hulle die prent gaan haal en biblioteek toe neem om foto’s te gaan soek. Gou is die prent verander om die ware toedrag van sake te wys en Klara gryp Thomas aan die hand om terug na die tonnel toe te hardloop. Huilend plak sy die nuwe prent van “Ons Familie” teen die rotsmuur vas.

Sy kom nie agter dat Thomas haar aandag probeer trek deur aan haar rok te pluk nie, maar ‘n sesde sintuig wat ten spyte van haar groot ontsteltenis nog steeds werk, sê vir haar: “Kyk agter jou op die vloer van die tonnel…”

Die dood vanself seil vinnig nader – ‘n swart mamba, met flikkerende tong…

swart mamba

“Hardloop, Thomas!” skree Klara. Sy stamp haar boetie by die gang af en gaan staan tussen hom en die slang, hande uitgestrek om te probeer keer, om haar boetie te beskerm. As die slang sy tande in haar voorarm inslaan, gil sy van afgryse. Thomas swaai om en kom teruggehardloop – die slang pik hom aan die been en seil dan terug met die tonnel na waar dit vandaan gekom het…

In die kombuis steur mnr Hardy en mev Marks hulle nie aan die voeteval deur die huis nie – Klara en Thomas speel dikwels wilde speletjies, op en af met die trappe en deur die “geheime” tonnels. Klara se gil van doodsangs laat hulle egter besef daar is groot fout. Hulle hardloop na die tonnel vanwaar die gil gekom het. Hulle is net betyds om die twee kinders se laaste stuiptrekkings te beleef…

Midde-in hulle skrynende smart oor die kinders, wat hulle per slot van sake tog liefgehad het, besef die ouma en oupa dat hierdie verskriklike gebeure hulle eie posisie heeltemal verander. Mnr Hardy het Joseph se testament in die biblioteek uitgesnuffel en die bepalings met mev. Marks gedeel. Hierdie twee kinders was hulle hoop op ‘n stabiele toekoms met werk en blyplek!

“Kom,” beveel mnr Hardy, “Vat jy vir Thomas en ek sal Klara dra. Ons gaan hulle vir eers wegsteek hier bo in die grotkamer, in daardie groot ou kis, totdat jy en ek uitgewerk het wat op aarde ons nou gaan maak…”

Verslae sit die Towerinne in die toring… Wat het met Charlotte gebeur? En met Joseph en Leonard? Wat het gebeur dat mnr Hardy nooit weer die kinders uit die kis in die grotkamer gaan haal het nie, was dit dalk die brand waarvan Trommeltjies gedroom het?

Christa, ek het nou my hartseer oor Klara en Thomas (probeer) wegskryf. Sal jy asseblieftog vir ons van hierdie vrae kan beantwoord?

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is https://fresh.inlinkz.com/p/3f26291088494dc99c7aa4554a66a313

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.