Dis bitterlik droog…en warm…

Op die stoeptrap bokant die vergane grasperk lê Tortellini (ons pofkat) soos ‘n sfinks en haar gewag op die astrante voëltjies wat tevergeefs na kossies kom soek, maak dat ek haar soos ‘n paria wil verjaag.

Tortellini

Gister het vriendinne my saamgeneem om die Palissander Kamerkoor se uitvoering te gaan beleef. Die tema: “Water is lewe”. Veertien uitsonderlike liedere met uitsonderlike begeleidings: tromme, perkussie, klanke voortgebring deur op verskeie maniere op hulle eie lywe te klap. (Toweragtig, soos wat hulle op dié manier die klank van ‘n reënbui naboots!) Eteriese sopraanstemme en basse wat die dreunsang van ‘n impi met gemak sou kon hanteer het gesorg vir ‘n musiekervaring kort duskant engelesang.

Ag, ek het so gehoop dat hulle sang die reën sou laat ontwaak! Dat die weerlig in die arena van die lug sou glim en die groot Akwarellis die harde landskap sou omtower in ‘n sege van wasige sagtheid, dat die kosbare water sou giet uit die hemele…

Selfs die oproerige “Dansgebed” – teks deur Abraham Fouché, musiek deur Péter Louis van Dijk – het nie gewerk nie…

Dwarrelwinddans om die vuur soos ‘n druppel so rond! Handeklap! Laat ons voete woerie-woerie, laat ons voete tamboer op die grond! Dans die rommelpotdans tot die donderaar dit hoor.

(Miskien moet ons in eensaamheid en afsondering saggies, saggies en deemoedig, vra vir die lafenis van die reën waarna ons so smag…Sodat ons suster haar asvaal karos kan kom oopsprei…)

Daarbuite in hulle swembad, ‘n waterpoel oorskadu deur wilgers en ‘n lae krans, het die eende bly roei, terwyl die soepele stemme van hierdie ongelooflike groep mense ons in vervoering gehad het. Hoe graag sou ek vir elke koorlid ‘n gazania wou gee, en vir die stigter en dirigent Sarita Hauptfleisch ‘n hele bos, sommer net om “dankie, dankie, dankie” te sê!


Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :

Jy kan ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het. Hier is die skakel na die woordlys: https://lekkervurigeaffere.blog/2019/10/09/reen-reen-waar-is-jy-woordsnoer/

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/f64779e6a80c44bfb5baa671f2d5bcdf

Die uitdaging sluit Donderdag 16 Oktober 2109 om 12h00.