Die afskeid was pynlik. Ons het mekaar styf vasgehou, met ingehoue trane. Wie weet of ons mekaar ooit weer in hierdie lewe sal sien?

H en ek ken mekaar nou een en vyftig jaar lank. Ons was lank kollegas en het elke oggend se saam koffiedrink in die kafeteria sommer as vanselfsprekend beskou – min het ons besef hoe bevoorreg ons was! Terwyl haar eie lewe goed geordend verloop het, het sy geduldig na my stormagtige klaagliedere geluister, altyd ‘n wyse trooswoord gehad. Die lewe het sy gang gegaan – sy en haar gesin het later Kaap toe getrek, maar elke keer as ons mekaar gesien het, het ons moeiteloos die drade opgetel en ons in mekaar se teenwoordigheid gekoester.

Toe kom die uitsonderlike kans om ‘n week lank by haar op Bredasdorp in die Overberg te gaan kuier, terwyl haar man in Kaapstad gaan werk. Dit was weer een van die rusplekke langs my pad wat my lewe lank nog so genadiglik aan my gegun word.

Hoog teen die skuinste staan die wit huis waar hulle woon, met ‘n wydse vergesig oor die mooi ou dorp. Kerkklokke verbreek die Sondagstilte; heuningvoëltjies swiep vinnig om die struike in die welige tuin. Daar is gereeld vars blommetjies in die huis – ook op my bedkassie. Ek verlustig my in die pragtige skilderkuns van haar pa, wat oral met groot sorg gehang is. Ons eet ons broodjies aan tafel; sê elke keer dankie vir die voorreg van dié week.

Oor Dinsdag se salige kuier saam met Toortsie en Seegogga het ek hier geskryf. Haar seun het sy motortjie “Rooies” vir ons gelos toe hy en sy pa Kaapstad toe is. Rooies neem ons op ‘n verkenningstog na die plaaslike Spar. Ons ry Waenhuiskrans toe, stap op die strand en ontdek die bron van die gladde klippe wat in hope op die strand lê: dit kom uit klonte rots wat gaandeweg verweer en dan die klippers vrylaat om deur die see rondgespoel en op die strand opgestapel te word.

Ons verken ‘n sjarmante kompleksie in Bredasdorp waar Givemore die kwekery toegewyd versorg. Ons eet spinasiesop met fetakrummels langs ‘n kaggelvuur – dis nog skoon winter in hierdie geweste. Opgediepte voorwerpe in die Skeepswrakmuseum bring die wrede werklikheid van skipbreuk tuis. In die ou pastoriegedeelte is daar vae spore van die dorp se beroemde dogter Audrey Blignault: van haar bundels essays in ‘n antieke boekrakkie; ‘n kort lewenskets teen die muur. Ek onthou weer haar onverbeterlike beskrywing van ‘n jakaranda in volle blom: “’n Glasligte blomwolk”… en hoe ek die enkele keer toe ek haar ontmoet het, sommer my hele lewensgeskiedenis uitgeblaker het, net omdat sy met sulke intense belangstelling uitgevra en geluister het.

Saterdag gaan wys H en haar man vir my Franskraal, Kleinbaai en Gansbaai. Op aanbeveling van die mensekenner agter die toonbank van KoekeLoer, ry ons na Afrikanos vir middagete. Weer is daar die wonderlikste oop vuurherd en die porsies is ongelooflik vrygewig.

Hoe heerlik om hierdie skoon see te mag beleef! Die baaitjies loop diep in die land in, sodat mens soms die golwe van die kant af strand toe sien jaag. Mens kan sommer so by die strand stilhou en ewe gemaksugtig die ryk seevoëllewe sit en bewonder. Die son en die reën kom en gaan…

Heeltemal te gou moet ek terug noorde toe. Vir my beeld hierdie reëltjie volkspoësie onwilligheid en verlange so goed uit:

My voete loop na Wellington maar ek gaan Worcester toe.

Die woorde en die gevoel draal dae lank in my gedagtes… Dan troos ek my maar aan die Amerikaanse digter Eunice Tietjens se woorde:

Old Friendship – Eunice Tietjens

Beautiful and rich is an old friendship,

Grateful to the touch as ancient ivory,

Smooth as aged wine, or sheen of tapestry

Where light has lingered, intimate and long.

Full of tears and warm is an old friendship

That asks no longer deeds of gallantry,

Or any deed at all – save that the friend shall be

Alive and breathing somewhere, like a song.

 

Advertisements