Soms word ek oorstelp deur die goedheid en guns wat oor my uitgestort word.

My hartsvriendin H wat laasjaar Bredasdorp toe getrek het, laat weet haar man moet ‘n week lank in Kaapstad gaan werk – kan ek haar dalk kom geselskap hou? In daardie dorp woon ook twee van die Towerinne, watter wonderlike kans om hulle te ontmoet! Ons planne word gemaak en toe ek weer sien, kuier ek in die mooiste Overberg.

Toortsie en Seegogga skuif al hulle gewone verpligtinge opsy en kuier ‘n hele dag lank saam met my en H. Seegogga kom ons oplaai om in Toortsie se asemrowende mooi huis ontbyt te gaan geniet. By die voordeur wag Toortsie ons in met haar kopdoek en fleurige voorskoot, terwyl twee Towerin-eende die ontmoeting deur die venster dophou. Terwyl ons ons verlustig in die uitsig oor die dorp tot by die verste gesigseinder, wys H na die tuin daar onder: “Mens kan sien hier woon ‘n boer!” Dis die allermooiste groentetuin met ‘n oorvloed kraakvars plante, benewens die fynbostuin nader aan die huis. Nooit sou mens kon glo dat hulle maar nou-die-dag hier ingetrek het nie! ‘n Tafel is vir ons voorberei, met ‘n feesmaal (waaronder spesiaal gebakte bantingbroodjies) en tee in die fynste Royal Albert-koppies.

Drie Towerinne bymekaar

Toe spring ons weer in Seegogga se silwer motortjie en sy vat die pad l’Agulhas toe (ek het ook nou geleer hoe spreek mens daardie plek se naam uit). Langs die pad stop sy skielik en gaan pluk vir my ‘n ruikertjie veldfreesias.

Freesias

Seegogga is nes Toortsie ‘n boorling van hierdie wêreld, ken die mense en die stories. Sy vertel van Spookdraai waar die soldaat uit die Tweede Wêreldoorlog dwaal en van die Soldatepoel waar die troepe van destyds geswem het; wys vir ons die barakke wat nou nog staan. Ons ry al langs die see, waar die branders so skuinsweg oor die baai jaag. By die suidelikste punt van Afrika, waar die Indiese en Atlantiese oseaan ongemerk bymekaarkom, drink ons sjampanje uit dun langsteelglase.

Sjampanje

Die son het nou nog geskyn, maar skielik sak ‘n bui reën uit en ons skarrel kar toe. Ons ry nog ‘n ent en toe – kedonkkk! haak die kar aan ‘n onverwagse klipbank vas. Maar dis geen probleem nie, want drie flinke manne wat besig is met ‘n padroller kom lig ewe vriendelik ons voertuig soos niks op en help dit mooi netjies oor die klip.

Ons gaan laaf ons senuwees in die sjarmante restaurant en geskenkwinkel Potpourri, ry dan na die vuurtoring wat in 1848 gebou is. My moed begewe my toe ek daardie steil trap (eintlik ‘n leer!) sien en ons stap liewers deur die keurige vuurtoringmuseum.

Vuurtoring

Daarna gaan kyk ons of ons nie dalk vir Parrie die Pylstert by Struisbaai se hawe kan sien nie. Ons gasvrouens wys vir ons die strandhuise waar hulle as kinders kom bly het; vertel hoe hulle in die hawe geswem het. Seegogga se beskrywing van die pylstert se stil, swart skaduwee wat haar diep daar onder in die water die skrik op die lyf jaag, sleur my mee na ‘n betowerde kindertyd.

Soos wat die Kaapse reën oor ons uitgesak het, so het strome van seën my gesalf op daardie gedenkwaardige dag in Bredasdorp.

Advertisements