As julle die draad van die storie wil hoor, moet julle hier kyk:
Bondelsgedagtes: Wakkerword op Rebusfontein
Kameel: Die Sirkus kom Rebus toe
Woordnoot: Una en mnr Barnum
Hester: Una se beenhare plaas ons op die soustrein
Toortsie: Besturende Agent van…
Die uwe sit in haar ivoortoring omring deur vuil teekoppies en potte met koue tee. Daar lê orals opgefrommelde hoofpynpoeierpapiertjies rond – daardie soort met die Ingelse Oupanaam. Die jêmtertjies wat Bondeltjies oorgestuur het, is almal reeds uit pure senuagtigheid verorber. Om amptelike sensor van die mediasirkus te wees wat vanoggend hier op Rebusfontein losgebars het, is ‘n sware verantwoordelikheid – amper te swaar vir een mens om te dra! Maar nouja, la’k maar probeer, traai, poog, my bes doen…om die Towerinne se goeie naam (en potensiële inkomstetjie) te beskerm.
In my jeug was ek ‘n ruk lank deurmekaar met ‘n Sondagkoerantman. By hom het ek geleer dat die pers altyd, maar altyd, die hef in die hand het! Wat help volgende week se weggesteekte verskoninkie op bl. 6 na die vorige Sondag se hoofberig op die voorblad se luide trompetgeskal van leuens, sensasie en ‘n paar halwe waarhede?
Daarom begin ek maar by SON, wat nie verniet heelbo aan Toortsie se lys is nie, en blaai sommer direk na bl. 3. Ja, daar pryk die foto! Aaarghgh! Watter skrikwekkende onvleiende foto van arme Una, ons almal se hoop op ‘n ou ekstra geldjie! En kyk net die onderskrif, gepleeg deur ene “Broodina”:
Die hoopvolle “talent” wat hoop om met haar uitsonderlike harigheid die sirkuswêreld te verower. Een van die berugte “Towerinne” van Rebusfontein, ‘n obskure plekkie met eienaardige kreature, waar verdagte dinge aangaan.
Julle, ek gaan ernstig by Silver kla oor hierdie vrou wat nou weer ewe skielik in die prentjie is! Ek vermoed sy is nou ‘n vryskutskrywer en ek vertrou haar net mooi niks nie! Ek weet daar is van julle wat glo sy het ‘n nuwe blaadjie omgeslaan, maar kyk nou net hier! “Waddehel!” soos Hester sou sê.
Brief aan die Redakteur van SON
Geagte Meneer (ek dink jy’s ‘n man, want geen vrou, al is sy ook redakteur van ‘n Sondagponiekoerant, sou so ‘n gruwelike foto van ‘n ander Eva plaas nie),
Namens die inwoners van Rebusfontein eis ek ‘n apologie oor die swak foto in jou koerant. Indien jy nie in die volgende uitgawe om verskoning vra en die foto hierby aangeheg op bl. 3 publiseer nie, gaan ons jou blad dagvaar vir laster, want enige magistraat wat sy/haar sout werd is, sal weet woorde soos “berugte, obskure, kreature en verdagte” is veragtelike propaganda.
Wees gewaarsku!
Op las
Tannie Frannie
Hmm, volgende is HUISGENOOT, die skindertydskrif wat ek weier om te erken dat ek graag lees…maar ai, ek’s altyd so bly om ‘n uitgawe in ‘n dokterspreekkamer te sien. Oe, dis mooi! Hester se foto’s, in volkleur oor twee bladsye, met Una wat straal en die hare wat blink… Daar is ‘n foto van mnr. Barnum met sy nuwe protegé, albei glimlag breed en daar skiet sulke sterretjies van hulle tande af. Welgedaan, Toortsie!
Goed, kom ons kyk na die Burger. ‘n Beriggie op die voorblad, oor twee kolomme, met ‘n goeie kleurfoto van Una se been, maar ai tog, so hovaardig-meerderwaardig geskryf! Umm, nouja: “Write me up, or write me down, but for heaven’s sake, just write me!” Met die Burger se skerp intellekte gaan ek beslis nie swaarde kruis nie. Beeld het weer soos gewoonlik die berig by die Burger oorgeneem, dus hoef daar ook niks gedoen te word nie.
Oooo aarde, die BBC het Hester se video van Una se wikkelende toontjies in die hande gekry! Die kommentaar lui soos volg:
Weird and wonderful scenes were witnessed in the middle of South Africa, where a pretty little town Rebusfontein (gie-gie-gie vir daardie poging om die naam uit te spreek – “Ree-buzz-fin-teen”!) nestles among green grass and never-ending vistas. The single main street is lined with the most charming houses, an architectural feast of colour and styles. Apparently this video is of the lively inhabitants’ newest venture, an attempt to get their sideshow into Mr Barnum’s circus. Good luck, girls!
RSG-nuus wy twintig sekondes aan Una en Radio Overberg neem die beriggie oor:
Suid-Afrika se nuutste uitvoerproduk, Una, Towerin van Rebusfontein, sê sy is hoogs opgewonde om haar land in die buiteland te gaan verteenwoordig.
Nouja, die luisteraars kan nou maar daarvan aflei net wat hulle wil!
Media 24 weier om my aanlyn toe te laat, want my gratis inskrywing het lankal verval. Ek is in elk geval vodde, en iets verskrikliks het my nou net bygeval: Wat van sosiale media!?!? Daar gaan ons nuus mos soos ‘n veldbrand versprei, en wie gaan vir Broodina en die res van die fb-skinderbekke in toom kan hou?
‘n Salige verligting vul my hart toe ek besef een van ons Towerinne is ‘n kenner van sosiale media, wat daardie spulletjie sommer baie maklik in die regte rigting sal kan stuur. Christa, kom help asseblief – ons het jou kundigheid baie nodig!
Jislaaaaaaik tannie Frannie!!!!!! Jy het jou taak absoluut puik uitgevoer. Jinne ek het nie besef tannie is so vasvatter nie, ek sal sowaar in my pasoppens wees as ek hierdie ouens is…baie dankie tannie het ons wraggies gered
Urgh, Bondeltjies, as dit darem nie vir jou jêmtertjies was nie…
😁😁😁
Ek het dit nou so geniet. Dit was puik. Jammer oor al die Grandpa’s…. sal by Silver skimp vir ‘n lekker massering vir jou by ‘n vyf ster spa. Kannie glo Broodina begin alweer met haar streke nie… wat dan van Klaas en die ouetehuis?
Ja, jongie – ons ken mos die gesegde “‘n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar”…
En ek staan-lê-sit verstom. Soveel aandag. Dankie Tannie Frannie, jy het dinge bymekaar gevat, vasgevat. Ek kan nou rustig aan die slaap raak. Maar oeeeee……….., ons is op die ‘map’!.
Tannie Frannie! Jy us ‘n doring! Mooi man! Knap gedaan.
Genade ons, wat n gedoente. Ek sit so ewe stilletjies inmy grot en in die tussentyd vlam die vure op daar op Rebusfontein. Kannie glo dat daar soveel nuus uitgesypel het nie en dit deur onse “vyandige” Broodina wat die vuur weer aangesteek het. Jy’s n vurige vrou as dit by regsien kom Frannie.
Ag lekker lees ek nou! Ek spring in …
AItsa Frannie….jy is die beste persoon vir die joppie!!! Jy vat hulle darem vas, hoor! Dankie ddat jy Una se nuutgevonde bate so mooi opppas.
Terug pieng: Roem wag vir die Towerinne – toortsie.com
En daar verdwyn my kommentaar! Ek wou sê: Welgedaan Frannie, jy is net die regte persoon vir hierdie joppie. Jy is ‘n meester pers-manipuleerder – ‘n vrou met ‘n ystervuis in ‘n sagte handskoen. Wat Broodina aanbetref wil ek ook net vir die Towerinne sê: “I TOLD YOU SO!”
Sjoe Frannie welgedaan!!! Jy jey nie eers nodig om mooibroodjies met die pers te bak nie! Hulle moet pasop vir jou!
Uitstekend geskryf ,Frannie! Dankie dat jy ons weer bewus gemaak het van Broodina…ons moet maar in ons pasoppens wees vir daardie entjie mens!