Augustus is ‘n afskeepmaand hier in die noorde – nie meer winter nie, nog nie lente nie. Middel van die dag stowewarm, maar koud in die oggende. Vaal en stowwerig en winderig, met die ellendige luiperdboomblaartjies wat orals rondwaai…
Saterdagoggend, halfpad deur ‘n langnaweek wat my heeltemal onverwags oorval het, word ons met bewolkte weer wakker – maar of daar reën van gaan kom, is te betwyfel. Die kindertjies ly aan kajuitkoors, hulle ouers is reeds vodde na gister se Vrouedag-oppas. Ouma doen maar so op die agtergrond haar bes, maar dis ook nie goed genoeg nie, sy word ronduit deur die vyfjarige vertel dat haar kamer “boring” is; die einste kamer wat op ander dae ‘n toweragtige “boomhuisie” kan wees. Maar wag – ahaaa! Ouma het ‘n wonderlike troefkaart: Rebusfontein!
Met twee kosbare klein handjies warm in myne, maak ons ons oë toe en konsentreer baie hard…Woerts! Hier staan ons voor die ivoortoringhuisie.
Lelik draf met haar maer katlyfie straataf, sy het net betyds die energiestroom gehaal om saam te kom en is nou oop-en-toe op pad na die rykgeskakeerde dieregemeenskap om te gaan hallo sê en so bietjie oor haar nooi en die kleinkinders te skinder. Ek kan haar net hoor: “Ja, miaau, en wee-julle, dan vat daai klein merrie Gabby my om die lyf en sleep my weg van my lekker warm lêplekkie af, dra my soos ‘n sak patats na waar sy ook al wil…En die lekker kos is al weer op, die ander kat Tortellini vreet soos ‘n sywurm, daar’s net van die slegte soort oor…En oor Joshua wil ek glad nie praat nie, hy is die grootste klein verpesting! Gelukkig verkies hy om ons arme hond Muis te treiter, dus kan ek hom gewoonlik ontglip…Julle honne hier op Rebusfontein moet maar liewers spore maak as julle daai mannetjie sien aankom, hy ken net vir Muis en Muis is die geduldigste liefiehond op aarde…Weet nie hoe julle opregte spulletjie schnauzers sy aanslae sal kan verduur nie…Aaa, hoe mooi groen is die gras hierso, spin-spin, knie-knie, by die ander huis is daar net stof en droogte…”
Intussen gaan ek en die twee kleintjies die toringhuisie binne en gaan sommer reguit na die toring toe. Gelukkig ken hulle trappe en huppel maklik teen die draaitrap op. Hulle sleep die mandjies en bokse met hulle pa, oom en tannie se kleintydspeelgoed nader en begin uitpak: outydse Barbies met eienaardige klere; ‘n verbleikte karretjie of twee; deurmekaar lego’s wat nog steeds heerlike speelmoontlikhede bied. Intussen kan ek ‘n rustige koppie tee geniet…maar eintlik het ek volwasse geselskap nodig en daardie leemte sal enige Towerin wat dalk ook vanoggend na Rebusfontein weggebreek het, kan vul.
‘n Kort rukkie later slenter ons drie met Towerinstraat langs na die dorpsmeent. Dit lyk asof die langnaweek in die werklike lewe heel aangenaam verloop, die Towerinne se huisies staan toe en die straat is verlate. Ons gaan hardloop op en af teen Rebusrus Amfiteater se halfmaansitplekke, staan onder op die verhoog (dalk moet dit eerder die “verlaag” genoem word?) en verlustig ons in die wonderlike akoestiek. As ons uitasem gesing is (Hansie Slim, Ou Oom Klasie het ‘n plaas, ‘n Worsie en ‘n Pannekoek…) gaan drink ons water uit die put. Harpy kom aangevlieg en Joshi skrik hom heeltemal oor ‘n mik, sit ‘n keel op en skrou “Mamma, mamma…”
Ouma het nou genoeg gehad en gou-gou is ons terug in die werklike lewe. Dis nou weer bietjie pa en ma se beurt!
Haha, nou het ek lekker saam gekuier met jou op ons eie manier van ontvlug. Daardie klomp Schnausies sal klei Josh baie gou op sy plek sit. Hul sal spanwerk doen en homnie n kat se kans gee om enige een te karnuffel nie. Schnausie hou van knibbel en jaag. Dankie vir die lekker teetjie wat ek by jou in die toring kon drink.
Ag hoe lekkee om die kleink7nders sqqm te neen Rwbysfontein toe( vir n rukkie, natuurlik, ons wil hulle nie heeltyd daar hê nie, né! Hoe lekker om n towerdorpie te hê om heen te glip as die lewe bietjie druk! Dit laat mt mos noe bierjie aan die kleintjiez se denkbeeldige maatjies dink. Wie het gesê oumas en oupas mag nie towerdorpies met pragtige huisies met wondertrappe, tee en koekies hê nie? Ek weet julle het lekker gekuier daar. Ek moet regtig n plan maak om meer soheentoe te gaan.
Iewers sal een van die Towerinne wel weer ‘n haas uit die hoed uit trek en sorg dat ons en masse soontoe optrek vir groot pret, soos met Woordnoot se k’sert-uitdaging. Ek kan nie wag nie!
Jou goeie geselskap is altyd welkom!
Ag te oulik! Die Schnauzers het Lelik baie geniet!
Lelik het nooit besef daar’s ander honde ook behalwe Muis op aarde nie! Sy sê die Schnauzers is baie mooi.
Dankie!
Ag dis nou ‘n slim plan om Rebus toe te verdwyn met die kleingoed. Heerlikste plek om heen te vlug as die lewe begin druk. Julle moes vir Quasimodo gaan kuier het daar doer bo in die boom. Ek wag ook vir ‘n optrek Rebus toe… tyd vir bietjie pret en plesier.
Janee, dis weer tyd vir ‘n behoorlike makietie!
Jy’s reg Frannie. Dis tyd vir ‘n nuwe avontuur.
Wat ń wonderlike idee, Frannie! Jong ja, ons moet net seker maak die mammas en pappas onthou van hul beurte. Vergeet kom maklik so oor naweke en vakansiedae…
😀 …
Wat ‘n lekker ontsnap, en “terug snap” toe dinge dit nodig ag….en ‘n briljante plan, ek dink dis wat ek nodig het, ‘n wegkom soontoe…dankie tannie
Ouma klink stokflou
Jy hoor reg!
Dit was nou ‘n heerlike verbeeldingsvlug. Jy skryf altyd so oulik,Frannie!
Terug pieng: Besturende Agent van … – toortsie.com