Vrydagaand is my gunstelingtyd van die week. Dis asof alles so effens rustiger raak, asof mense diep asemhaal en besef hulle het nog ‘n week oorleef… Daarom nooi ek julle graag om op ‘n Vrydagaand op die malse groen gras van die Rebusrus Amfiteater te kom sit en ontspan en na “my” musiek te kom luister.

Hier is ‘n lied wat ek so graag vir my dogtertjie gesing het: “Goeiemore my sonskyn, goeiemore my kind…” Ai, ek is lief vir die see… En daardie saksofoon, watter meesterlike atmosfeerskepping!

Daar is niemand wat die ou Hillbrow besing het soos Johannes Kerkorrel nie…

Creed is ‘n Amerikaanse rock band. Die hoofsanger Scott Stapp het hierdie lied geskryf toe hy gehoor het dat hy pa gaan word. Al wat ek het om vir my lange jare op hierdie aarde te wys, is my drie kinders en vier kleinkinders…maar dis meer as genoeg.

Gabriella se lied verwoord my innige wense vir die punt van my hart, my kleindogtertjie Gabriella: “Ek wil gelukkig lewe omdat ek myself is, sterk en vry…”

Uiteindelik is ons almal maar pelgrims, soekend na die boarding huis…

Advertisements