Desember 2013, net nadat ek afgetree het, gaan ek by my dogter in die VSA kuier. Daar sien ek vir die eerste keer in my lewe rêrige-êrige sneeu.

My dogter was toe nog ‘n werknemer van die Girl Scouts. Dié middag vat sy my saam na ‘n onthaal wat ‘n troepie Girl Scouts vir ‘n groep senior burgers aanbied. Ons sit in ‘n pragtige saal met yslike vensters wat oor die tuin met hoë bome uitkyk toe die eerste sneeuvlokkies begin val – ‘n asemrowende gesig, omraam deur die sierlike vensters!

Ek bou sneeumanne (dis harde werk), maak sneeu-engeltjies (dis louter pret), sit my elke dag en verkyk aan die sneeulandskap. My flukse Amerikaanse skoonseun skraap sneeu van die motors, die oprit en die houtstoep af – as mens dit nie gou verwyder nie, ontaard dit in ys. Daisy die hond huppel soos ‘n dolfyn deur die sneeu; die buurman laat my met ‘n sleetjie teen die afdraand in sy tuin afgly.

In die helder sonskyn skitter die ysdrupsels aan takkies soos juwele…

Advertisements