Kom toe vandag uiteindelik so ver om my lessenaartjie se laaie uit te pak en te (probeer) orden. Dit was ‘n fees van ontdekkings, maar ook ‘n onthutsende ervaring, want ek het besef my opgaardrang is iets ysliks. Tog is ek bly oor elke enkele kaartjie, foto en papiertjie wat my vandag laat terugdink en glimlag het.

Die kaartjies en papiertjies het ek in vyf hopies gepak: van my dogter en haar man; van my boetie en sy mense; van Laatlam en sy dierbares; van ander mense – vriende, kollegas, bure; van Middelkind en sy gesin. Dit wemel van die katprentjies – duidelik het my katversotheid dikwels die keuse van ‘n kaartjie vergemaklik.

In die hopie van my dogter is daar ‘n kaartjie uit haar hoërskooldae, met die hele gesin (vier troeteldiere inkluis) se name almal in haar handskrif onderaan: “Pa, Vilette, Joon, Flip, Oscar, Mattewis, Garfield en Appel”. Sy het duidelik besef dat dit ‘n onbegonne taak is om die hele ou spulletjie in hulle eie handskrif te laat teken. Daar is ‘n klomp Moedersdagkaartjies, duur Amerikaanse skeppinge op luukse dik papier, met ekstravagante loftuitinge aan “Mother”, en onderaan afsonderlike persoonlike boodskappies van haar en haar man. Die verjaarsdagkaartjies verseker my dat ek goed vaar in my stryd teen die ouderdom, bv. die een van ‘n kroeserige, valerige, sopnat en befoeterde kat wat my vertel: “You’re not washed up…” en as mens dan omblaai: “You’re just soaked in experience!”

Op my boetie kon ek altyd staat maak om snaakse verjaarsdagkaartjies uit te snuffel – so is daar een met ‘n blou strokiesprenthaas op die buiteblad wat vra: “Chillin’?” en dan aan die binnekant kom die antwoord: “Grillin’!!” met die einste haas wat sy hande verwarm deur hulle na ‘n verjaarsdagkoek uit te strek wat kreun onder ‘n allemintige vrag brandende kersies. Daar’s ‘n pragtige selfgemaakte kerskaartjie van my broerskind wat my vertel hoe bly sy is dat ek in Nieu-Seeland by hulle kon kom kuier oor die Kersgety van 1915; ‘n reeksie uitgeknipte kartonnetjies waarop haar boetie as klein seuntjie onder andere vir my geskryf het dat ek lekker pasta maak en “die beste” is.

Uit die dae toe Laatlam nog onder sy ma se dak gewoon het, in plaas van andersom soos wat nou die geval is, is daar lawwe, liefderike briefies aan “Mamsling”. Daar’s ‘n pragtige verjaarsdagkaartjie in die vorm van ‘n swart “fuzzy-wuzzy” kat, met ‘n dierbare, lang boodskappie van my skoondogter; ‘n bedagsame briefie wat sê: “Ons is gou winkels toe. Liefde, C & G”.

Daar is afskeidsboodskappies van verskillende werksplekke se kollegas; poskaarte uit Edinburgh, Zambië, Tsitsikamma en die Grand Canyon. Een briefie is in babataal deur my buurvrou aan Laatlam geskryf toe hy een jaar oud geword het:

Fllppppp –
Agrrrrr! Glugghlughlglugh
Llliefffffff!!!
Brrrrr – kouddddd
Mmmmmmooooooi!
Sssssskkktttt!
Tttttann Kttttttta

In Middelkind se hopie is daar die mooiste handgemaakte Moedersdagkaartjie met ‘n afdruk van die pragtige houtskoolskets wat my begaafde skoondogter van ons eerste kleinkind gemaak het. Daar is ‘n potloodtekeninkie van ‘n son, wat hierdie einste seuntjie gemaak het terwyl hy prewel: “I’m drawing the sun, so it can shine on us…” (sy moedertaal is Engels – my skoondogter is ‘n Engelse Vrystater). My kleindogter het ‘n kleurige kaartjie geteken met vlinders en ‘n vrolike meisie in ‘n groen rok. Boaan staan: “I love you ouma.” In ‘n gekoopte Moedersdagkaartjie skryf my liewe ou seun: “…aanvaar asseblief hierdie soetsappige kaartjie met my hartlike liefde…”
Maar die heerlikste van alles is die opstel wat ons eerste kleinseun geskryf het (ek dink dit was vroeg in graad een):

The Lion
A lion is a mamel.
It gives birth to live youn.
And it is part of the cat family so it can see in the darc.
It is a carnivall which means it is a meat eater!
It lives in Africa.
It lives in a family calld a pride.
A family of lions has between 3-5 members in its pride.
A lion can eat 28 killer grams a day.

Nou vra ek jou: Hoe kan ek enigiets hiervan net weggooi??