Die Heer het opgestaan! Die Heer het waarlik opgestaan.

Gisternag het ek nog gewonder oor die letter T en vanoggend is die antwoord daar:
T staan vir Trompet.

Van al die instrumente is ‘n trompet vir my suiwer triomf – bygesê, mits dit in die hande van ‘n meester is, wat wel vanoggend die geval is.

Donderdagaand het ons by kerslig die nagmaal met ongesuurde brood gevier; Vrydagoggend het ons in bittere stilte uiteengegaan; vanoggend dra baie mense wit, oor die kansel hang wit draperings, wit lelies en rose juig in ‘n lieflike rangskikking.

Die kerk is stampvol. Ons staan terwyl orrel en trompet die Hallelujakoor uitjubel; ons sing terwyl die trompet bo ons stemme uitstyg. Toe ons die tweede vers van die laaste lied (VONKK 277: U is die lig) sing, op die wysie van Highland Cathedral, sluit die verrassende klank van ‘n doedelsak skielik by die orrel en trompet aan en dra ons stemme in ‘n verruklike loflied.

Hoor jy die Paasfeesklokke?
Hul lui van vroegdag af;
hul jubel oor die wêreld:
Die Heer is uit die graf!