Met die “skoolfunksies” (= basaars) van my kinderjare was fudge ‘n belangrike deel van die lekkerte. Die ma’s het houers fudge skool toe gestuur, waar ons kinders dit dan in klein versierde papiermandjies verpak het. Daar was allerhande soorte: donkerbruin met kakao gegeur; die tradisionele pienk-en-wit klapperys; fudge met neute en dan die ware jakob – die gewone heerlike ligbruin soort met die karamelsmaak. (‘n Mens skrik as jy sien hoeveel suiker, kondensmelk en gouestroop in so ‘n kooksel fudge ingaan.) Mikrogolfoonde het eers baie later in kombuise verskyn; hierdie basaarfudge is vir baie lank op stoofplate geroer, om en om, totdat dit daardie allesbelangrike stadium bereik waar mens dit in ‘n pan moet uitgooi voordat dit te styf word. Die eindproduk is romerig, maar tog harderig – mens se tande moet so aan ‘n blokkie kan knaag. Fudge wat te sag is, is vir my ‘n groot teleurstelling – om nie eens te praat van die karameltoffies wat in Ierland as fudge bestempel word nie! Baie lank het ek probeer om self fudge te maak, maar dit was die een mislukking na die ander, totdat die oulike vroutjie van een van GL se kollegas aangebied het om my in my eie kombuis te kom wys hoe om dit te doen. Daardie resep maak ek vandag nog so af en toe, as die lus my oorweldig. Dan staan ek by die stoof, storieboek in die hand, en roer…

Ek is so innig dankbaar dat ons kerkbasaar nog ‘n poedingtafel het, met die bakkies poeding soos dit nog maar altyd was: stewige skeppies kouepoeding – iewers moet daar Idealmelk en kondensmelk in wees – liggeel, pienkerig, so ‘n sagte oranje; rooi of groen jellie; lekker dik tuisgemaakte vla – sonder klonte! – en as mens gelukkig is, ‘n koekerigheid om substansie aan die hele konkoksie te gee.

Dit bly vir my ‘n teleurstelling dat ek na die hoofgereg nooit kans sien vir nagereg as ons gaan uiteet nie, ek het dit al dikwels oorweeg om eerste nagereg te bestel, maar nog nooit die moed van my oortuiging gehad nie.

My ouma se glansworteltjies; gebraaide soetpampoen; stowepatats; ertjies in ‘n vlasousie – waar wil mens lekkerder kry?