Die eerste keer dat ek bewustelik die betowering van maanlig besef het, was die volmaanaand op ‘n maatjie se werf, toe ‘n klomp skoolkinders wegkruipertjie gespeel het. Dit was so helder soos daglig, maar die lig was sag en geheimnisvol.

Daar was ‘n maanlignag toe ons kaalvoet oor die klam seesand geloop en ons aan die blink glinstering op die golwe verstom het; ‘n plaasdam waar ons na ‘n hittige dag in die sagte lig deur die water geplas het.

Op die dak van Fort Namutoni het ek en my hartsvriendin ons aan die maandeurdrenkte landskap verstom; gesien hoe snuffel ‘n hiëna deur die Suidwesveld.

Een nag het ek en my boetie hoog op die Rots van die Vier Winde sit en kyk hoe die ronde maan oor die see opkom.

Soms, saans as ek na ‘n lang werksdag huis toe ry, het die volmaan laag in die ooste gehang, groot en goudgeel en op ‘n eienaardige manier vertroostend.

Advertisements