My dogtertjie was iewers in die laerskool toe sy ons een dominee gevra het of katte hemel toe gaan. Ek sal daardie vrou ewig dankbaar bly oor haar wyse antwoord: “Ek dink alles wat mens hier op aarde gelukkig maak, sal ook in die hemel wees.” Ek skaam my, maar die sentimentele idee van ‘n reënboogbrug met ons heengegane troeteldiere wat aan die anderkant vir ons wag, bly vir my ‘n wonderlike troos. Die ding is net, daar wag ‘n hele horde katte op my: Toeksie, my eerste katjie, met haar grys bollewollyfie; Woepsie, my hoërskoolkat, met gemmer-en-swart strepies in sy blink pels; Natasha wat in ‘n stadstraat opgetel is, ook ‘n strepieskat, en haar twee kleintjies Bliksem en Soois, my drie Sunnyside-woonstelkatte; Kleintjie, my dogter se pragtige gemmerkat wat sy by haar oom afgesmeek het en wat eintlik uit ‘n plaasskuur huis toe gebring is om slange weg te hou; Oscar, die pikswart kat wat saans straat-af saam met ons gaan stap het; Gorgeous, die glorieryke half-Persiese gemmerkat wat Laatlam in graad 1 by sy juffrou gekry het omdat haar sussie met Persiese katte geteel en Gorgeous se ma gaan rondloop het; Gabriël, die yslike, stewige strepieskat wat altyd so met sy sware voorlyf op my skoot kom lê het en les bes sy sussie, Skoonlief.

My dogter het met die boetie en sussie by die huis aangekom en die kleiner enetjie vir my present gegee. Toe ek die katjie die eerste keer vashou en sien hoe mooi sy is, het die woord “Beauty” by my opgekom, en omdat sy ‘n Afrikaanse kat sou wees, is sy toe “Skoonlief” gedoop. Geen foto laat reg aan haar geskied nie. Sy was ‘n pragtige syerige langhaar-strepieskat met die liefste geaardheid, wat haarself altyd silwerskoon versorg het. Sy was my drieuur-snags-maatjie, al spinnende, met haar glansende groen-en-goue oë wat diep in myne inkyk. As mens nou net een troeteldier kon kies om jou anderkant daardie brug in te wag, sou ek Skoonlief kies.

Ounooi se bedAlhoewel ek die praktiese nut daarvan insien, is dit tog vir my erg dat troetelkatte nie in ouetehuise toegelaat word nie. Daarom is ek so dankbaar dat ek en my kat Lelik hier by Laatlam-hulle kon intrek. Hier is ‘n foto waar my skoondogter Lelik probeer opdollie het. Ons glo nie haar poging was geslaagd nie…

IMG-20180603-WA0010

Intussen het nog ‘n kat my lewe kom opkikker – Tortellini. Sy is ‘n vriendelike wollerige gemmer-en-swart kat met geel oë, spelerig en self-geldend. As sy honger is (amper die heeltyd) bespring sy mens se enkels met haar stewige pote, maar sonder om haar naels te gebruik. As sy by ‘n kamer wil inkom, sal sy voor die toe deur sit en mompel-miaau totdat ounooi se senuwees ingee en dié maar ewe gedweë gaan oopmaak. Sy is verstommend geduldig met my kleinkinders, wat haar graag ronddra.

Tortellini

Verder is daar my drie kleinkatte: Barbie in Ierland en Diesel en Midnight in die VSA.

Watter bekoorlike skepsels is katte tog, met hulle sagte pels, grasieuse beweging en daardie wonderlike vermoë om te spin.

Advertisements