Joshua, oftewel Joshi, is my driejarige kleinseuntjie. Vanjaar pas ek hom nog soggens op, maar volgende jaar gaan hy skooltjie toe.

Hierdie twee foto’s som die verskil tussen hom en sy sussie so goed op:

Vir ons almal was die kontras tussen dié twee foto’s skreeusnaaks, maar toe ek dit vir my mistieke vriendin stuur, het haar reaksie my baie skaam laat kry: “Ag foeitog, hy het baie liefde nodig.” Sy vermoed dat Joshi in ‘n vorige lewe baie swaar gekry het.

Hoe dit ook al sy, in hierdie lewe is hy bevoorreg, met drie vrouens wat elke dag na sy pype dans: die inwonende ouma, sy liefderike mamma en sy vrygewige sussietjie.


Dis ‘n ongelooflike voorreg om so ná aan die ou seuntjie te leef dat mens sy ontwikkeling met vreugde en verstomming kan dophou. Sy gunstelingspeelgoed is ou kabels en tegnologie-wrakstukke, waarmee hy “netwerke bou”. Hy ry graag op sy blou skopfietsie “winkels toe” en kom terug met ‘n denkbeeldige “swietie vir ouma”, wat plegtig met ‘n sagte handjie aangegee word. Hy hou van musiek, veral Mozart se Harp- en fluitkonsert en Bobbie van Jaarsveld se Paddakonsert. Wanneer hy gelukkig is, maak hy sulke tweevoetsprongetjies.

Wanneer hy styf teen my kom sit, met die volle vertroue dat hy welkom is, smelt my hart van onuitspreeklike blydskap.

Joshi April 2019 3

Advertisements