Die HAT verklaar hierdie woorde soos volg:

Inkennig: Skaam, sku, wild vir vreemdes – ‘n inkennige kind/dier
Ingetoë: Besadig, gematig, stemmig – ‘n ingetoë kind/iemand met ‘n ingetoë aard
Introvert: Tot homself ingekeer/geneig tot introversie = toespitsing van jou belangstelling op jouself, op jou eie gemoedslewe, met uitsluiting van die buitewêreld

Die eerste twee is outydse woorde, maar die derde een word deesdae links en regs gebruik. Daar is iemand in my lewe op wie aldrie hierdie woorde van toepassing is en wat aan my veel vreugde verskaf. Dis my dogter se hartsvriendin – hulle het mekaar as eerstejaars tydens die jooloptog raakgeloop en vandag, 21 jaar later, is daar steeds ‘n sterk band tussen hulle.

H is ‘n self-erkende introvert – ek het dit al beleef dat sy heeltemal toeskulp in vreemde mense se geselskap. Tog gesels sy heerlik en ongedwonge met my. Dis eintlik ‘n vreemde vriendskap, gegrond op ons albei se verlange na my dogter. Ons sien mekaar selde, gewoonlik as die een of die ander ‘n pakkie in die buiteland kan gaan aflewer, of ‘n presentjie uit die buiteland saamgebring het. ‘n Kuiertjie van haar of by haar is vir my absoluut kosbaar en die kere wat sy my op ‘n uitstappie geneem het (pannekoek by die teeplantasie op pad terug van die Wildtuin af; ‘n rustige staptog deur ‘n verstommende mooi landskap sommer hier digby Pretoria) is heerlike herinneringe.

Om H in ‘n boekwinkel te sien, is nogal ‘n belewenis – haar huis loop oor van die boeke. Sy is lief daarvoor om yslike ingewikkelde Lego-konstruksies te bou. Sy reis graag en dikwels, na verre en vreemde bestemmings. Haar fb-inskrywings is gewoonlik vir my heeltemal onverstaanbaar vanweë die inligtingstegnologiese verwysings, maar op WhatsApp verstaan ek gelukkig, soos nou-die-dag toe sy ‘n prentjie aangestuur het van ‘n dik handboek wat verskeur op die vloer lê, met die titel Dog Training for Dummies.

Toe my kind in die somer van 2017 so siek was, het H spesiaal vir haar in die VSA kom kuier – net vir een week. Hoe het sy ons almal opgevrolik! Hierdie foto het sy geneem in ‘n bekoorlike ou parkie in die hartjie van Harrisburg – ‘n bestemming wat sy self uitgesnuffel het. Terug in Suid-Afrika, het sy spesiaal vir my ‘n afdruk laat raam en groen vlindertjies op die raam geplak.

Ma en dogter

Advertisements