Vanoggend stap ek, Laatlam (hy’s met verlof), Joshi en Muis die hond na die parkie so ‘n ent van ons af. Dis die allermooiste oggend – windstil, die son skyn helder en die hele wêreld is skoongewas na die afgelope dae se reën. Ons bewonder die yslike ou doringbome wat hier rond groei en verstom ons aan die stilte van ‘n oggend in die voorstede. Daardie stilte word egter telkens wreed verskeur deur die honde wat agter hulle heinings moord en doodslag belowe en Muis se histeriese reaksie daarop.

By die parkie aangekom, klim en gly en swaai Joshi te lekker, Laatlam rook die een na die ander sigaret, Muis verken die omgewing en ouma sit die son en indrink. Die drie opgeskote plataanbome hier by die speelplek het al enkele blare laat val, sulke groot bruines en geles. Die lug toon reeds daardie onbeskryflike herfsblou wat elke jaar vir my so mooi is.

Herfs – tyd van inkeer en stilte, van nostalgie en verlange, en ja – ook van vrede…

Advertisements