Gabriella, oftewel Gabby, is my vyfjarige kleindogtertjie. Ek was so bevoorreg om haar twee jaar lank te kon oppas voor sy skooltjie toe is, omdat haar boetie op pad was en ouma nie vir albei kans gesien het nie.

Sy het nou net ‘n seetoneel hier in my kamer gebou: die kruppel rooi sambreeltjie staan regop op my bed, op die vloer lê ‘n ou duvet wat die seesand voorstel, besaai met speelgoed, en net buite my deur is die “see”, ‘n blou-en-groen babakombersie. Al vyf die waterverfprente wat sy die afgelope vakansie vir my geverf het, is met Prestik teen die muur vasgesit.

Hoe het die kindjie so vinnig grootgeword? Gister het sy haar eerste wisseltandjie self uitgepluk en gisternag het die Tandefeetjie (soveel meer romanties as die eg Afrikaanse Tandemuis) bloupers blinkervoetspoortjies op haar vensterbank gelos (haar mamma is goed met sulke kunswerke) en die bakkie waarin die tandjie gelê het, vol blinkertjies gestrooi. Moet sê ek weet nie hoe die feetjie/muis met inflasie tred hou nie − ‘n tand kos nou net mooi eenhonderd keer meer as toe my kinders klein was!

Gabby se tandjie 7 April 2019

Hierdie kindjie besorg haar ouma matelose vermaak en vreugde. ‘n Hoogtepunt dié naweek was toe ek Laatlam na sy dogtertjie sien kyk met die mooiste uitdrukking van liefderike vertedering op sy gewoonlik iesegrimmige gesig.

Advertisements