Dis net bygeloof, ek weet, maar in my oumahart bewaar ek ‘n prentjie van ‘n spannetjie engeltjies wat soggens aantree om hulle orders te kry vir die dag se uitputtende beskerming van ‘n kleutertjie.

Die een engeltjie keer vir die hoeke van kaste en tafels, net mooi op die verkeerde hoogte, wat so maklik ‘n kindjie se koppie tref. Hoevele kere het ek al gesien hoe word daardie hoek met ‘n haarbreedte gemis!

Dan is daar die arme klompie – want hier is net een nie genoeg nie – wat by klimrame en glyplanke wag staan. Hulle moet keer vir die vale: dat die waaghalsige outjie wat daar teen ‘n gevaarlike touleer uitklim, wel sy been oor die laaste sport gehys gaan kry om triomfantlik op die hemelhoë houtplatform te staan; dat die kleintjies nie teen mekaar vashardloop nie; dat die een outjie wat van voor af teen die glyplank uitklim nie agteroor duiwel nie; dat ‘n rokkie nie aan die sykant van die glyplank vashaak sodat die ou dogtertjie hulpeloos tussen hemel en aarde daar bly hang nie.

Hulle kommandant is die een wat oor die swaaie waghou, want dit is ‘n ernstige en ingewikkelde taak. En (‘skuus Lou) die diensbeurt by die rondomtalie is ‘n beurt wat al wat ‘n engeltjie is, probeer vermy.

In my mitologie is daar verkeersengeltjies; sandengeltjies wat kinderogies beskerm; waterengeltjies wat waak oor riviere en mere en swembaddens en die see; vuurengeltjies wat langs braaivleisvure wagstaan; plastiekengeltjies wat keer vir verstik; mes- en skêr- en vurk- en naald- en ketel- en strykyster- en stoofplaat- en boom- en klip- en duwweltjie-engeltjies.

Saans as die kleintjie gaan slaap, sug die spannetjie van verligting dat nog ‘n dagtaak veilig afgehandel is.

So wou ek ‘n ligsinnige storietjie rondom die letter E weef – toe ruk Kameel se vertelling van gister my hart stukkend en ek besef: daar is nie sulke engeltjies nie, daar is net die onverstaanbare misterie van lewe…en dood…

Advertisements