Met die eerste oogopslag lyk dit vir my na ‘n papegaai soos Pasella – maar nee, dis ‘n duif, ‘n pragtige blougrys gespikkelde duif met ‘n heldergeel snawel en pote, seker maar ‘n posduif? In die besige vroegmiddagverkeer (die eerste skooldag na die vakansie is sopas verby) fladder hy op die teerpad rond, sodat ek moet stilhou, anders gaan ek hom raakry. Heeltemal verward sit die ou doodstil, reg voor my motor.

Agter my stop ‘n groot gesins-4×4. Die vrou skakel die noodligte aan en klim uit – net daar in die middel van die straat koukus ons oor wat ons te doen staan. Sy dink die duif se vlerk is beseer, sy het hom reeds vroeër daar in die straat sien spartel. Na ‘n mislukte grypslag, besluit sy om by die garagewinkel oorkant die straat ‘n boks te gaan soek. “Is jy haastig? Sal jy asseblief net keer dat hy nie in die straat in vlug nie?” Maar natuurlik sal ek – staan wag by die motordeur en sak nou en dan op my knieë af, loer onder die motor deur na waar die ou nou onder die 4×4 langs die linkervoorwiel tot ruste gekom het. Intussen snel die motors, taxi’s, bromponies verby…hoe kunsmatig geïsoleerd is mens in jou motor, hoe kwesbaar hier buite in die rasende spoed en verkeersgeluide!

Die duif se redder kom triomfantlik terug en sommer gou-gou (ek skree kliphard en benoud: “Vang hom!!”) word hy veilig in die plat kartonboks toegemaak. Die lieflike vrou gaan nou eers haar seun by die skool oplaai – hy wag al vir haar – en dan sal hulle saam die duif by ‘n veearts besorg. Ons glimlag vir mekaar, innig dankbaar oor die suksesvolle missie, en elkeen ry verder haar eie koers in.

Soveel redes tot vreugde het hierdie mooi duif my gister gebring, wat mens miskien sou kon saamvat as blydskap oor omgee: die omgee van ‘n besige ma wat haar oor ‘n duif ontferm; winkelpersoneel wat ‘n boks iewers uitgrawe; stadsbestuurders wat nie een ergerlik getoet het oor die blokkasie in die pad nie; veeartse wat voëls gratis behandel as deel van hulle roeping.

Advertisements