My dogter in die VSA se seer geliefde ou hond is gister dood. Vroeg gisteraand het ek gaan slaap, danksy ons immer behulpsame Eskom. Toe ek halftwee die nag wakker word, het ek die nuus gekry. Ek kon nie weer slaap nie. Ek treur namens die vrou wat ek die heel liefste op aarde het en ek kan haar nie teen my vasdruk en saam met haar huil nie. Nou skryf ek maar…oor Daisy.

Daisy was ‘n “rescue”, soos die Amerikaners die diere noem wat in toevlugsoorde opgeneem en dan deur diereliefhebbers aangeneem word. Meestal swart Labrador, maar met ‘n effens fyner lyfie en pote. Toe sy by my kinders tuisgekom het, was die haartjies om haar bek reeds grys – of dalk wit, ek was eintlik nooit seker nie. V het haar met die hand aanlyn uitgesoek en toe haar man saam na die toevlugsoord gevat met ‘n vaste agenda: as hy die mooie hond sien, sou hy haar mos nie kon weerstaan nie ;0) Al wat hulle van haar vorige lewe geweet het, was haar naam: Daisy.

Daisy-hond

Toe land daardie getraumatiseerde hond in die botter. Net die beste mediese sorg (alhoewe-el, dit het beteken dat sy maar by ‘n streng dieet moes hou). Slaap snags ‘n rukkie in ‘n gemaklike hondebed en betrek dan die sagte duvet op die dubbelbed. Twee eiesinnige katte en twee liefdevolle mense vir geselskap. ‘n Ouma (die uwe) en ‘n peetma (V se kosbare vriendin) in Suid-Afrika. ‘n “Picture window” vanwaar sy die doenighede in die straat kan dophou en ander honde kan waarsku om hier weg te bly. ‘n Agterplaas om in te speel en gereelde stappies in die buurt. Modieuse halsbande met bypassende leibande en af en toe ‘n nuwe speelding wat hond kan aanval en skud en bespring en bekou totdat daardie ding ophou piepgeluide maak. Twee dierbare bure by wie sy kon bly as haar nooi-hulle weggaan. Die gelukkigste hond op aarde: Daisy.

Daisy op die blou bank

Deur lang, eensame ure toe haar man nog in die kleinhandel gewerk en sy self van die huis af, was Daisy vir my kind geselskap en ‘n aanspraak. Daar is mos niks meer vertroostend as ‘n slapende dier langs mens as jy moet sit en werk nie – of moet lê en herstel… Heerlike geselskap en sieketrooster: Daisy.

 

100_2294

S.J. Pretorius het die volgende gedig geskryf. Ek weet hy sou nie omgegee het dat ek die woord “Oubaas” met “Ounooi” vervang het nie.

BRAKKIE

Ounooi?
Ek is maar net ‘n uurtjie in jou lewe,
‘n skadu’tjie wat by jou bewe,
net ‘n ou lekkie is my strewe;
hê Ounooi?

Ounooi?
Sal jy nie eens, − wie weet waar swerf jy rond!
dink aan ‘n ou nat snoetjie, wollemond;
‘n lankal-dood ou hond,
Hê Ounooi?

Mooi loop, Daisy-hond.

Daisy se pad