le-jou-eier1-e1512926357627

Kan nie die verduideliking spoeg en plak nie, maar hier is die skakel na Hester se oorspronklike uitdaging.

Hier sit ek met ‘n spesiale ESKOM-bestande spieël (dankie Vuurvliegie!) myself en bekyk (iets wat ek eintlik nooit ooit meer graag doen nie).

Daai vrou in die spieël – sy is lief vir mense. Ek moes dit van my pa af gekry het – hy sou sommer op die besige sypaadjie botstil gaan staan om hom te verlustig in die bonte mensdom rondom hom. Dis ‘n kosbare erfenis, want dit maak my lewe maklik. Ek gesels graag en hou daarvan om te kuier. Dis nie vir my moeilik om in ‘n vreemde omgewing in te pas nie, ek vertrou mense en waardeer hulle goeie eienskappe (oor die krapperige karaktertrekke glimlag ek sagweg in my mou).

“Jy is die grootste prokrastineerder wat ek ken,” het my mentor in my goue jeug eendag vir my gesê, met dieselfde liefderike, moedelose ergernis in sy stem as wat Marelize se mamma in daardie befaamde MfM-oomblik laat hoor het. Ai, prof. Willie, weet jy, ek stel nog steeds so vreeslik uit! Hoe suksesvol sou my beroepslewe gewees het as dit nie was vir hierdie erge swakheid nie? Dis nou heeltemal te laat, maar tog werk ek deesdae einde ten laaste en noodgedwonge daaraan…

Dalk is dit goed dat ek hier aan die einde van my lewe met net ‘n handvol as sit (dis nou in aardse terme − ek is meer as ryk in dit wat ewigheidswaarde het), want dit hou my nederig. Van die sewe doodsondes is trots die een waarmee ek die meeste stoei, wat ek die heel graagste morsdood wil smoor. Gelukkig kom hoogmoed voor ‘n val…en ja, Hester, dis net soos jy sê, ‘n mens kom bloedbek anderkant uit!

‘n Onlangse kompliment van ‘n hartsvriendin: “Jy moet jouself oppas. Jy beteken soveel vir baie mense op verskillende vlakke.” Haar woorde gee my moed, laat my opnuut weer onderneem:

Eens aan die einde van my lewe
sal ek, van sorge’n moeite vry,
vir elke dag my hier gegewe,
U hoër, reiner loflied wy.