Hierdie inskrywing is ‘n nagedagte oor die Towerinne se fiktiewe reis deur ons land. Trommeltjies het ons in Kaapstad onthaal en sedertdien wou ek nog altyd van my ervaringe van die Moederstad kom vertel het.

As kind het ek ‘n wondermooie kaleidoskoop gehad – een met blinkpapierstukkies wat betowerende patrone gevorm het en nooit dieselfde ontwerpe herhaal het nie. Wanneer ek terugkyk oor my Kaapstadse avonture oor lange jare, voel dit vir my asof ek weer in ‘n kaleidoskoop inkyk…

Op ‘n wintersreëndag beleef ek Kaapstad vir die eerste keer, saam met J, wat later een van my vele hartseer liefdestories sou word. Ons haal die trein van Stellenbosch af, waar ons ‘n studentekongres bywoon, om Kaapstad te gaan verken. Dis grys en koud en nat, maar as hy my hand vat en dit saam met syne in sy jassak laat inglip, blom ‘n warm verwondering in my hart.

Met een van daardie Angliatjies waarvan die agterste venster so verkeerd-om gebou was, ry ek en ‘n vriendin af Kaap toe om die einde van ons eerste jaar as jong werkendes te gaan vier. Ons kry plek in ‘n B&B in ‘n ou herehuis in Oranjezicht, ontmoet vir P wat met sy motorfiets van bo in die noorde dwarsdeur Afrika getoer het en gaan hou ‘n sjampanjepiekniek by die Boulders, lank voordat daar enige pikkewyne was.

Ek stap op Cliftonstrand wanneer my naam uitbundig geroep word en twee goeie vriende my oor die sand tegemoet hardloop. Die een kom my ‘n paar dae later oplaai waar ek in ‘n skakelhuisie hoog bokant Tafelbaai kuier (asemrowend, daardie bloue deining anderkant die hawe, met Robbeneiland wat dieper see in lê). By Bettysbaai snorkel ons tussen die seebamboese, ry skemertyd terug stad toe onder die lig van ‘n volmaan.

Op ‘n epiese sloertoer, eers deur dele van Namibië en dan tot in Kaapstad voor ons uiteindelik by Stormsriviermond beland, bring ek en nog een van my liefdes ‘n paar dae in ‘n selfsorgeenheid in Kaapstad deur. Ons gaan kuier by my boetie wat sy diensplig hier verrig, my kleinboetie wat binne twee maande my volwasse broer geword het.

Daar was proteas in Kaapstad: by die blommeverkoopsters; in ‘n welkomsruiker wat hoog teen Sir Lowryspas aan my oorhandig is; ‘n woonstel vol blomme toe ek vir ‘n naweek by Gewese Liefling in die Kaap gaan kuier.

Drie jaar gaan ek en die kleuters af Kaap toe om in die parlementsdorpie te gaan bly, en moet ons onsself maar besig hou terwyl GL met hogere sake te doene het. Kinders en honde swerf in sulke lang toue oor die gras en sandveld. Ons swem in die helder, koue water by Clifton, dwaal op Bloubergstrand deur spookagtige mis terwyl ons ronde klippers optel om ‘n skattejagspoor vir ‘n kinderpartytjie te gaan lê. Op sy aandrang tel ek vierjarige Middelkind in die hoë mik van ‘n boom oorkant ons huisie en kyk anderpad terwyl ek terugstap huis toe en ‘n skietgebedjie om veiligheid opstuur. ‘n Laerskoolseuntjie roep hom toe: “Hei, outjie, as jy daar uitval, breek jy jou nek!”

Hierdie selfde boomklimmertjie gaan na matriek Kaapstad toe, waar hy sy volwasse lewe op eie houtjie aanpak. Tydens hulle jong swerfjare gaan kuier ons in ‘n reeks meenthuise by hom en sy liefling. Ons eerste kleinkind ondergaan in die eerste week van sy lewetjie ‘n ernstige hartoperasie en nog een toe hy drie jaartjies oud is. Ons kuier in Simonstad in ‘n huis met ‘n uitsig oor die see, waar ‘n geelslang een oggend om ‘n struik gekrul lê. Alleen kuier ek later weer by hulle, hoog in die berge bokant Simonstad onder dennebome, met rotse en paddastoeltjies en ‘n stil bruin dam.

Die tweede kleinkind kom aan en ek kuier steeds van een meenthuis na ‘n volgende. Ek word op heerlike uitstappies geneem: Weskus toe na die Strandloper, deur die Sederberge, na Silwermyn se natuurreservaat, Kirstenbosch, World of Birds, Babylonstoren… My kinders raak meer gevestig en nou kuier ek meermale in dieselfde huis in Durbanville; woon ‘n atletiekbyeenkoms, ‘n sanguitvoering en ‘n ouma- en oupadag by.

Boomklim klein

My kosbare vriendin H werk ‘n paar jaar lank by die Kaapse Argief in die ou Roelandstraatse tronk – dis ‘n bron van heelwat grappies. Sy reël dat ek Jan van Riebeeck se oorspronklike handtekening te siene kan kry in sy “Daghregister”, ‘n reuseboek waarin die daaglikse doenighede van die verversingstasie van “de Caab de Goede Hoop” opgeteken is. Om die vloeiende, flambojante handtekening vol krulletjies en draaitjies te sien, slaan eenvoudig my asem weg. As ek in die Kaap is, kuier ek en H vanselfsprekend – sit iewers in ‘n kafeetjie en haal in op mekaar se wel en wee.

Af en toe moet ek in die Kaapse kantore van my organisasie gaan werk en daar is ook ‘n luukse kongres by die Waterfront waar ons as organiseerders drie dae lank omtrent glad nie slaap nie. Die hotel het asemrowende uitsigte oor die see en die hawe, maar helaas – daar is geen tyd om dit te geniet nie. Dis stresvol om so ver van die huis af te moet werk, om uit ‘n tas uit te leef en nooit regtig te kan ontspan nie. Ek slaak telkens ‘n sug van verligting as ek uiteindelik my rekenaar kan wegbêre en my pad na my Kaapse kinders toe kan vind. In retrospek is ek nou so bly dat ek die paar kere as ek vir werk in Kaapstad was, moeite gedoen het om by hulle uit te kom, want nou is hulle baie ver – ek noem hulle nou my Ierse kinders…

Ek was nog nie weer in Kaapstad na hulle daar weg is nie. Sal ek Tafelberg ooit weer sien?