Dit was nog altyd my mening dat die blote feit van Laatlam se bestaan my dwing om goed te doen wat nie by my ouderdom pas nie. Vanjaar pas ek nog vir klein Joshua op, voordat hy volgende jaar skooltjie toe gaan. Die kleinman het egter so teen die einde van verlede jaar gewys dat hy graag nuwe wêrelde wil verken, met die gevolg dat hy en Ouma nou weekliks ‘n Pienkvoetpret*-sessie bywoon.
Daar sit ek op ‘n plat kussing en sing lustig saam terwyl Joshi op my skoot al die gebare moet nadoen. Dan spring ons op en loop soos olifante of hop soos hasies al in die rondte – weer eens moet Ouma deelneem, sy moet immers ‘n goeie rolmodel wees! Daar is ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite om die kleintjies se begripvermoë uit te brei en die band tussen mamma ( oftewel ouma) en kindjie te versterk.
Die eerste keer was Joshi se ogies koeëlrond in sy koppie, maar hy het mooi saamgespeel. Week 2 kon ek aan sy kenmerkende vrolike tweevoet-sprongetjies sien dat hy sake terdeë geniet. Week 3 begin hy vra wanneer is dit “pievoetpêt” en beleef hy reeds sy eerste speelgrond-onderonsie:
Na die gestruktureerde program is daar tyd vir vrye spel in die buitelug. ‘n Lieflike, stewige klein seuntjie staan enkeldiep in die watertjies van een van daardie plastiekskulpe, terwyl plastiekballe om hom ronddobber. Joshua dink dis net te lekker en klim self oor die rand om in die water te staan. Die eienaar van die terrein vervies hom en stoot Joshi agteruit sodat hy buite die skulp op sy boudjies land.
Ouma is besig om ‘n sny koek te verorber toe sy ‘n bekende geskrou hoor – dis Joshi se antwoord op enige stresvolle situasie. Die seuntjie se mamma is hoogs ontsteld en dring aan dat hy vir Joshi plek moet maak. Toe Joshi mooi in die skulp geïnstalleer is, wend die ander mannetjie hom na my. Hy praat sulke lang sinne met my (hy het die stembuiging en -ritme perfek bemeester, maar hy moet nog die woorde leer om in daardie cadenzas in te pas). Sy lyftaal laat egter geen ruimte vir twyfel nie, want terwyl hy my bepraat, vat hy my hand en lei my na die skulp, waar dit duidelik is dat ek NOU hierdie indringer hier moet uitboender. Ek is so dik van die lag dat ek heeltemal hulpeloos is, maar toe besluit Joshi self dat ‘n plastiekperdjie interessanter as die skulp is en die vrede word herstel.
Na so ‘n sessie is ouma en kleinseun ewe uitgeput en ewe gelukkig.
*’n Handelsmerk
Dis kosbaar. Ons kleinkind van ander oumas het gister sy eerste vorderings verslag huistoe gebring. Hy blom en val saans om van al die Pienkvoetpret by die skool. Groetnis.
Mens is so dankbaar as hulle blom – en sommer ook as hulle vroeg gaan slaap!
En hier kikker jy my dag op met jou lekker skrywe. Tyd dat ek by my kleinstes uitkom!
Die kleinstes is ‘n onmeetlike vreugde!
Ouma voel seker ‘n bietjie seer na hierdie sessies! Kleintjies is dierbaar.
Janee, dis my oefening vir die week 😀
Dis sooo oulik en ek is bly dat jy nie dink jy is te oud daarvoor nie. 😊
Jy weet mos ek leef in volslae ontkenning!
Kostelik. Ek sien die prentjie van die outjie wat jou so bepraat – een van sy ouers is seker ‘n politikus. Ag dit klink sommer net lekker.
Daardie mannetjie het beslis leierseienskappe ❤
Oooooo ek sou so sessie nie oorleef nie …. daar waar ek sit sou ek moes sit tot die brandweer aankom om my op te help! Welgedaan Ouma! Ek is diep beïndruk
😉
Dis te lekker om so saam die goed te doen. Dit laat n mens se hart sommer swel met liefde en trots dat so n kindjie totaal aan jou oorgee alles wat hy het. Die manier van daardie water-mannetjie is tiies van outjies wat nie wil deel nie. Ek sien jou prentjie duidelik voor my. Ongelukkig kan ek nie meer plat op vloer sit nie. Bea weet al ek het n stoeltjie nodig sy sit hom reg vir my sodat ons kan speel. Ek hoor van my seun dat hy die kleintjies veel plesier gee deur as hy Bea oplaai eers n ronte met hul te hardloop en te jaag. Almal deel in die plesier!
Die vertroue tussen kleinkindjie en grootouer is vir my van die heel mooiste verwonderinge op aarde. Hulle het soveel spontane liefde vir ons!
Beslis daardie spontane gevoel maak mens se hart sommer week. Na my val was Bea bekommerd oor Ouma Eina. 3 weke later toe ek haar weer sien kyk sy vir my knie wat nou gesond is maar n hele litteken gemaak het en sy toets dit met haar vingertjie. Rukkie later kom sit sy op my skoot en geem y n stywe druk, sommer net so uit die bloute. Dit was so lekker gewees.
Ai, daardie drukkies ❤
Ag moeder, Ouma Frannie!
😉
Ons kleintjies laat ons vergeet van ons sorge….. my elfjarige kleindogter vertel nou die dag by ‘n partytjie hoe ons altyd tolhek tolhek gespeel het…hulle op die skopfietsies en ek, die tolmeester (of is dit die tollenaar?). Hulle moes met speelgeld vir al hule bewegings betaal. Ons het ure om gespeel…
Dis nou ‘n oorspronklike speletjie!
Nogal uitputtend..maar ek het super mooi herinneringe daar van…veral omdat sussie haar so ingelewe het in die rol wat sy gespeel het…
Ek was ook na ‘n ouma dag by die pienkvoet pretklas van Z, te lekker gesing, gespeel en gelag vir al die manewales. Dis lekker om ‘n ouma te kan wees
Dis te kostelik vir woorde ! wat ‘n voorreg het jy om dit saam met jou kleinkind te beleef! Myne bly so ver van my af, sien haar net op internet!
Jy maak heerlike herhinneringe Frannie.