Een van fantasieskrywer Terry Pratchett se lang ry onvergeetlike karakters is Twoflower, die toeris wat gestalte gee aan die gesegde “Fools rush in where angels fear to tread”. Hy slenter deur die strate van die groot stad Ankh-Morpork en tuur vaag en vriendelik deur sy (rooskleurige) dikraambril terwyl hy hom aan al die vreemde goed en wesens om hom verstom. Salig onbewus van die gevaarlike omgewing waar hy telkens net-net aan ‘n ramp ontsnap en soms selfs ‘n ramp veroorsaak, geniet hy sy toer geweldig baie.

Soos gewoonlik, het die skrywer hier ‘n groot waarheid beet: Toeriste dwaal onskuldig deur ‘n vreemde wêreld en het nie regtig ‘n realistiese beeld van wat hulle sien nie. ‘n Mens is met vakansie, alledaagse bekommernisse en verantwoordelikhede is opgehef, jou tyd is jou eie. Die wolke en landskappe van jou vaderland is dalk net so mooi of selfs mooier as hier, maar hier het jy tyd om daarna te kyk!

Tog wil ek as toeris ‘n stelling maak: Die Iere is gulhartige mense wat uit hulle pad gaan vir ander, letterlik en figuurlik. Ek onthou die dame wat die “lucky bog cat” wat ek vir my katvriendin uitgesoek het so sorgsaam toedraai; die hulpvaardige maître d’; die buurvroutjie wat stilhou en eers gou kennis maak; die ou Ier met die mooi hoë wangbene wat na ‘n vroeëre geselsie spesiaal van my skoonsus in die teekamer kom afskeid neem: “Enjoy the rest of your time in the Fridge!” Die skrikwekkende nou, kronkelende plattelandse paadjies, waar die gras sommerso uit die teer groei om middelmannetjies te vorm, maak my nie benoud nie, want ek weet die motoriste is bedag op voetgangers, fietsryers en aankomende verkeer.

Ek verkyk my aan die mooie kinders, heelwat van hulle met die kenmerkende rooi hare wat glo ‘n Keltiese erfenis is (Ierland het die hoogste persentasie rooikoppe ter wêreld). ‘n Klein dogtertjie in ‘n pub besluit ons is die interessantste ding wat sy nóg vandag gesien het. Sy het ‘n feestelike donkerrooi rokkie aan en vergaap haar aan ons klompie, loop sommer ‘n entjie agter ons aan, tot ons en haar gesin se vermaak.

Ons besoek die Donegalbiblioteek, waar die twee vriendelikste bibliotekaresses ooit vir my die een na die ander boek oor Ierland aandra. Op die koop toe kry ek en my skoonsus elkeen ‘n pen, potlood en boekmerk present, asook ‘n “History and Heritage Education Pack”: County Donegal in 1916: From the Edge, uitgegee by geleentheid van die 100-jarige herdenking van die Ierse opstand in 1916. Die interessante A4-boek op dik glanspapier bevat geskiedkundige foto’s en daar is ekstra werkkaarte vir gebruik in die skole. Volgens Middelkind lê die Iere ook besondere klem op kreatiwiteit en die kunste.

Een middag laat my kleindogter se dramajuffrou ons toe om ‘n repetisie vir hulle opvoering van The Wizard of Oz by te woon. Soveel talentvolle kinders… Isabella sing Somewhere over the rainbow dat hierdie ouma se trane net wil loop! Ons twee bak gemmerkoekies wat baie vinnig verdwyn en sy maak die mooiste poppie uit een van daardie wasgoedpennetjies met die ronde koppe, wat ouma vir Gabby moet saamvat SA toe.

Klein Frans probeer sy ouma leer hoe om die videospeletjie Streetfighter te speel. Hy is ‘n uitstekende, sagte mentor en moedig my aan om strategies te dink. Ongelukkig is ouma so besig om te probeer onthou waffer knoppie doen wat, dat daar geen sprake van strategiese denke is nie – indien daar ooit enigsins so ‘n moontlikheid was!

My skoondogter is ‘n uiters begaafde beeldende kunstenaar, maar die tyd om haar talent uit te leef is min. Laventel laat my altyd aan haar dink, want tydens hulle swerfjare in Kaapstad het sy orals waar sy moes intrek, laventel geplant. Haar potplante blom asof hulle betaal word en daar is altyd takkies en stiggies en groeiende plantjies op haar vensterbanke. Gaandeweg besef hierdie skoonma dat my dogter se hele silwerskoon, gesellige huishouding eintlik ‘n kunswerk is, met gelukkige kinders en man, heerlike kos en besondere gasvryheid. My wens vir haar is dat sy eendag, wanneer hierdie besige tyd verbygegaan het, na hartelus sal kan skilder, want talent soos hare verryk die wêreld.

Om die werklikheid van my seun en sy gesin se omgewing te kan beleef, is so ‘n voorreg. Ek en my skoonsus, sy peetma, koester ons in sy rustige teenwoordigheid, vanaf die eerste oomblik op Dublin se lughawe toe hy ons albei se swaar tasse oorneem en behendig motor toe maneuvreer. Soos hy dikwels tydens my kuiers in Kaapstad gedoen het, neem hy ons almal op heerlike uitstappies. Drie weke later is die terugreis lughawe toe maar stil, aldrie sit met hulle eie gedagtes. Ek weet my skoonsus sien daarna uit om haar kinders van ons avonture te vertel. Self wonder ek wanneer, indien ooit, ek weer hierdie dierbares van my sal kan vashou…

094