Die toerismeroete Wild Atlantic Way (2 500 km lank) loop van die suidelike kuslyn al langs Ierland se weskus tot bo in die noorde. Die merker lyk só:

139

Op twee agtereenvolgende dae verken ons hierdie roete in Donegal: eers noordwes en toe suidwes. Die eerste dag ry ons na Fanad Head se ligtoring, waar ons by ‘n kafeetjie met die mooiste uitsig op die see koffie drink. Die see is onstuimig en pragtig, liggroen waar dit oor die rotse breek en soms pluime die lug laat inskiet. Daar is groot opwinding as ‘n skool dolfyne sommer hier naby verbyswem.

img-20181229-wa0026

 

In die dorpie Downings eet ons middagete. Sláinte!

slainte

 

By ‘n oulike winkeltjie “The Old Sea Dog” snuffel ons deur boeke oor die see, seevaart, seewier, skulpe, vis en visvangs. My kleinseun ontdek ‘n klomp hoogs realistiese bruin eiers wat van spons gemaak is – natuurlik koop ouma vir hom so ‘n “egg ball”, wat hop as mens dit laat val.

img-20181229-wa0032

Ons ry huis toe, verby skape, asemrowend hoog teen die berge, met klipmure en kwiksilwer watervlakke orals. Dis ‘n gemoedelike, rustige dag.

img-20181229-wa0030

Die volgende dag kies ons suidwaarts koers. Anderkant die geskiedkundige wewersdorpie Ardara sluit ons by die Wild Atlantic Way aan en ry verder suid. Hoog op ‘n bergtop staan windturbines wat volhoubaar krag opwek, maar die waaiers verdwyn in die mis, sodat mens net die wasige stamme kan sien. By ‘n uitkykpunt (was dit in Glengesh Pass?) ver, ver af met ‘n nou vallei langs, hou ons stil.

134

Dan ry ons tot by Bunglass, ‘n uitkykpunt in die Slieve League (“Sliabh” = berg; “Liag” = hellings), die hoogste seekranse in Europa. Dis ‘n onherbergsame landskap, met plate wit klippers wat orals teen die steil hoogtes afgestort het en die koue see doer ver onder…

144

Wat ons nou nodig het, is die vertroosting van middagete. By ‘n deftige restaurant in Killybegs, waar mens jou plek vooraf moet bespreek, beduie die besige dog hulpvaardige bestuurder waar ons dalk geholpe sal kan raak: hy ken nie die naam van die pub nie, maar hy weet wel dis oorkant ‘n begraafplaas. Vol moed en hongerte ry ons verder en kom uiteindelik tereg by Mary Murrin’s Pub, presies geleë soos daar vir ons beduie is.

Ons keer huiswaarts deur Barnesmore Gap in die Blue Stack Mountains, waar blougetinte rotse teen die hoogtes opgestapel lê. Naby Stranorlar val ons vas in die berugte Sondagmiddag-vieruur-spitsverkeer, maar die toffies wat by een van die garagewinkels met hulle besonder goed beplande en oorvloedige voorraad gekoop is, maak die terugrit sommer korter. Dis ‘n eienaardige, onrustige dag, perfek opgesom deur die Ierse digter Joseph Campbell (1879 – 1944):

Some places in Donegal seem to me to brood under a perpetual twilight and silence… And mixed up with the twilight and silence is a profound melancholy that rises out of the landscape itself… Those dark hills with the rack over them and the sun looking through on one little patch of tilled land, and the stone mearings about it, figure forth the sorrow that is the heritage of every Irishman; the darkness the sorrow, the sunshine the hope, iridescent and beautiful, but a thing of moments only and soon to fade away.

img-20181222-wa0007