Iewers in my kinderjare was daar ‘n fliek wat in Ierland afgespeel het. Ek kan niks meer daarvan onthou nie as dat dit ‘n geweldige sin van betowering by my geskep het. O, en die banshee wat my die ewige skrik op die lyf gejaag het! ‘n Banshee (uit die oud-Iers wat beteken “feëvrou”) is ‘n kwelgees wat iemand se dood aankondig deur te gil, te ween en te weeklaag. Daar word ook geglo dat hierdie gees sterwende familielede kom ontmoet om hulle veilig na die doderyk te lei. Selfs hier in Afrika het ons al gehoor van die “Little People” in daardie verre, mistieke land wat soms kindertjies steel of met een van hulle eie omruil, wat sommer maklik die vee sal vervloek en elke aand met ‘n pierinkie melk uit die boervrou se kombuis tevrede gehou moet word.

img-20181222-wa0032

 

‘n Wandeling in Drummonaghan Wood laat mens verstaan hoedat hierdie skilderagtige omgewing die land se dromers, digters en sangers tot mites en legendes geïnspireer het. Die reën val en hou op; val en hou op – sover as wat mens stap, hoor jy stroompies kabbel. Hier staan ‘n poel roeskleurige water – is dit die wapenrusting van ‘n gevalle ridder wat die water kleur, is dit sy bleek gesig wat onder die bome se weerkaatsings oop-oog boontoe staar?

024

Op die dik bruin blaretapyt lê ‘n enkele helderrooi of skelgeel blaar. Mos, korsmos, kersfeesloof en varings sorg vir al die kleure van ‘n groen reënboog. Skielik skyn die son helder en teken die gewel van die huisie af wat deur ‘n opening in die bome teen die oorkantste heuwel sigbaar is. Êrens blaf ‘n groot ou hond…

Waar die pad weer ‘n draai maak, stap ons ‘n diep, donker denneplantasie binne met bome so hoog dat dit lyk asof hulle geen einde het nie.

032

Dis eintlik ‘n verligting om aan die magiese krag van daardie towerwoud te ontsnap en weer jou eie werklikheid terug te vind.

img-20181222-wa0019