Ontmoet die Ierse kat Bobby – ag ek bedoel Barbie. Sy is herdoop toe my kinders agterkom sy’s eintlik ‘n wyfie, nadat hulle haar as ‘n klein katjie aangeneem het.
Toe ek en my skoonsus die dag daar aankom, het Barbie ons een kyk gegee en laat spaander oor die grondpaadjie die wye, wilde (en sopnat) veld in. ‘n Kat so mooi soos wat sy is, behoort nie so vir (vriendelike, mak) mense te skrik nie!

100_2890

Sy is ‘n taamlike groot kat, hoofsaaklik wit, met ligbruin en donkergrys vlekke hier en daar, waarin daar ook strepies sigbaar is. Haar ogies is ‘n sagte, helder groen en haar digte pels is kort en sysag. Haar stert is ligbruin met donkerder ringe al in die rondte, ‘n besonders gespierde aanhangsel, wat om mens se hand vou wanneer jy dit streel. Op haar linkerflank is twee donkergrys strepe: ‘n duidelike is-gelyk-aan-teken. Sy wou egter nooit vir my vertel wat gelyk is waaraan nie.

20190103_212011

Sy het na ‘n dag of twee met ons vrede gemaak, maar in die proses my selfvertroue een hengse knou gegee. My lewe lank is ek besimpeld lief vir katte en hulle laat hulle gewoonlik hierdie tannie se toenadering welgeval. Toe Barbie nou uiteindelik besluit om weer voor haar eie kaggelvuur te kom lê, kies sy jouwaarlikwaar heel eerste my skoonsus se skoot uit! Ek was maar taamlik groen… Later het sy darem saans op my skoot ook kom lê, maar die oomblik dat my skoondogter kom sit het, was my beurt verby.

Volgens oorlewering was daar in die moeraslande van Ierland ‘n “bog cat”, ‘n groot swart kat wat vir mens geluk gebring het as jy dit sou sien. Dit was seker maar ‘n soort wildekat wat die Iere met hulle sjarmante geneigdheid tot fantasie met spesiale towerkrag beklee het.

img-20190105-wa0032

‘n Swart kat kon ek weliswaar nie onder oë kry nie, maar daar was darem een dag so ‘n yslike strepieskat wat tussen die rotse op die kruin van die heuweltjie in die weiveld langs die huis op ‘n jagtog uit was. In navolging van sy voorbeeld trek ek oujaarsoggend stewels aan (die veld is heeltyd so nat dat mens glad nie sonder oorskoene daarin kan gaan stap nie) en gaan verken die rotse. Ek stap vreesloos tussen die klippe rond, want Sint Patrick het mos al die slange uit Ierland verban!

Weggesteek tussen die rotse en bome is die ruïne van ‘n kliphuisie, waar ‘n ou tannie alleen gewoon het totdat die vyf huise waarvan my kinders nou een huur, gebou is. Daar is bakstene ook in die klipmure ingebou, dus kan dit nie te oud wees nie. ‘n Laaste paar skilfers blou verf klou nog aan die houtkosyne van die vervalle klein venstertjie en dit maak my sommer hartseer: dis al wat hier oorgebly het van die mooi Ierse gebruik om hulle vensterrame en deure sulke helder kleure te verf. Waar is die ou vroutjie heen toe haar rus hier verstoor is? Het sy haar kinders in hierdie huisie grootgemaak en saans haar man met ‘n warm vuur en stomende lamsbredie verwelkom? Het hier ook ‘n kat gewoon wat saans as die dagtaak afgehandel was op haar skoot kom lê en spin het?

152

Ondanks die skraal sonnetjie is dit baie koud met ‘n ligte wind, mens kan nie te lank buite rondloop nie. Na nog ‘n paar foto’s van skilderagtige, vervalle ou klipkraalmure blaas ek die aftog om my in die geselskap van my familie te gaan koester.

149