Omdat die uwe so ‘n geborge kindertyd beleef het, het sy min sielkundige bagasie – trouens, sy was nog altyd trots op haar kalmte van gees. Janee, trots is nie verniet een van die sewe doodsondes nie; so kom hoogmoed voor die val en dan “zijn de helden gevallen”! (Heel gepas, dat dié twee uitdrukkings albei na die aksie van “val” verwys.)

Toe my dierbare pa my ‘n leeftyd gelede help trek na ‘n piepklein woonstelletjie op die 14de verdieping van ‘n Johannesburgse woonstelblok in Joubertpark met die ironiese naam “King’s Ransom” (moes maar ‘n armlastige koning gewees het), sien ek hy loop so effens huiwerig met die oop gang langs, weg van die lae muurtjie af, styf teen die woonstelmure aangedruk. Nie een van ons rep ‘n woord daaroor nie, maar my mammie het my later vertel dat my pa nog maar al die jare hoogtevrees gehad het.

My seun-hulle woon op die platteland in die noorde van Ierland, naby die grens met die gedeelte wat onder Britse regering staan, maar darem nog deel van die vrye Ierse Republiek, in County Donegal. Hy huur ‘n bussie om ons mee rond te ry, sodat ons geselskap van ses heerlik gemaklik die panorama kan bewonder.

169

Op Nuwejaarsdag vat hy ons na die “Grianan of Aileach”, ‘n sirkelvormige heuwelfort van droëklipwerk, iewers in die 6e, 7e of 8e eeu n.C. gebou en in die 1870’s mooi gerestoureer. Die fort is 23,6 meter in deursnee, die ringmuur is 4,5 meter dik en 5 meter hoog. Dit vorm drie terrasse wat van binne af deur kliptrappe bereik word. Twee konsentriese grondwalle (wat mens nie eintlik meer kan sien nie) vorm verdere skanse en daar is ook ‘n put daar naby. Daar word vermoed dat die terrein reeds in die brons- en ystertydperk bewoon was.

165

Ons stap deur die lae ingang en my skoondogter en kleindogter klim soos ribbokkies tot heelbo teen die trappe op. Dit kan nie hoër of laer nie, ek moet agterna! Die trappe is heel begaanbaar, maar daar is niks om aan vas te hou nie… Halfpad boontoe besef ek hierdie avontuur is ‘n groot fout, want hoe gaan ek ooit weer heelhuids hier af kom? Bo gekom, voel ek naar en duiselig. Nooit weer trek ek my neus op vir mense met hoogtevrees nie, dis nie sommer geite nie, dis werklik! Gelukkig moet skoonma en ouma darem haar “pose” hou, met die gevolg dat ek myself onder beheer kry en oor die klipmuur gaan kyk.

ierland uitsig v anaf hillfort

Die uitsig is onbeskryflik wyd en asemrowend mooi: eers die gras- en heideveld van die berg, dan Ierland se kenmerkende groen lappiesveld met Lough Swilly in die verte. Nie eers die gedagte aan die terugtog demp my verwondering nie…

Ek wag tot skoon- en kleindogter weer met die trap af koerskry, gaan sit dan plat op die grond en skuif-skuif tot ek mooi in lyn is, met my voete op die tweede trap. Toe staan ek houtgerus op en klim stadig en statig teen al daai trappe af, terwyl ek innerlik gil: “Nooit, ooit weer nie!”

Moenie dat hierdie foto julle mislei nie – op hierdie oomblik is ek vrekbang.

ouma en isabella (ierland des 2018)

Advertisements