Gister was die eerste dag vandat ons uit Ierland terug is dat die son behoorlik helder geskyn het. Ek het die warmte soos ‘n akkedis ingedrink. Kan nie onthou dat ek vroeërjare so erg koud gekry het nie, maar die afgelope rukkie in Ierland het dit maar swaar gegaan. Die een na die ander warmsjokolade het gehelp; so ook die rojale geëet. (Guinness kon ek rêrig nie afgesluk kry nie, maar Ierse pubs bedien ook koffie en tuis was daar wyn en Glühwein en Irish coffee.)

005

Elke aand maak my kinders die heerlikste kaggelvuur, met laasjaar se kersboomtakkies, houtplankies wat as “sticks” verkoop word, dik houtblokke, steenkool en – ja – ook turf (“peat”), wat spesiaal bestel is om vir ons daarmee vuur te maak. Dit bestaan uit plantmateriaal wat in die nat, suur moeraslande gedeeltelik verrot het tot ‘n donkerbruin massa wat baie soos grond lyk. In die ou dae is die turf in sooie uitgespit, maar deesdae word ‘n masjien gebruik wat die turf in ronde “stompies” ontgin. My skoonsus, veteraan van vele hardekool-Bosveldvure, kry so ‘n turfvuur sommer een-twee-drie aan die gang.

My Suid-Afrikaanse skoondogter, by wie ek onderdak kry, hou kontak d.m.v. WhatsApp. Sy stuur o.a. ‘n video waarin die twee kleintjies, op hulle mamma se bevel, “Hallo Ouma!” skree. Sy verseker my dat hulle my ook mis, soos ek vir hulle. Ek antwoord met ‘n stempos en noem o.a. dat ek so koud kry. Op 2 Januarie kom die volgende boodskappie:
Gabby het nou spesiaal gebid en vir Jesus gevra om seker te maak ”ouma kry nie koud nie en Jesus gee vir haar asb genoeg geld dat sy ‘n nuwe baadjie kan koop sodat sy nie koud kry nie – amen!”

Ag my ou liefie! My baadjie is lekker warm, maar buitenshuis moet ek aan die beweeg bly, anders raak ek misrabel – het my misgis om te dink broekiekouse, sokkies en dik jeans gaan genoeg beskutting wees!

Die middag na daardie WhatsApp bring my skoonsus vir my ‘n ekstra kledingstuk wat sy in haar tas ontdek het en nie gaan dra nie, iets in die lyn van ekstra-warm “longjohns”. (Terwyl ek vir die kuier ingepak het, het ek met ‘n soortgelyke lang affêre in my hande gestaan – een wat tussen my dogter se goedjies agtergebly het toe sy VSA toe is – en uiteindelik besluit ek gaan dit nie nodig kry nie! Hoe het ek myself nie verwens oor daardie dom besluit nie.) Ek is kinderlik dankbaar oor hierdie present, maar vra ewe knorrig: “Hoekom gee jy dit nou eers vir my?” Dis ‘n wonder sy het dit nie daar en dan teruggevat nie.

Die volgende dag is ons laaste uitstappie van die vakansie, na ‘n skouspelagtige “kasteel” (in 1870 gebou en dus nie ‘n regte ou kasteel nie) langs ‘n skilderagtige meer in die Glenveagh Nasionale Park. Ek dartel heerlik knus deur die uitgestrekte tuine op hierdie koue, groue dag; bewonder die appelbome wat kunstig gelei en vervorm is; verstom my aan die sneeuklokkies wat orals kop uitsteek. Ondertussen blom die besef in my hart: opregte gebede word verhoor – miskien nie presies soos wat daar gevra word nie, maar altyd tot ons beswil.

Advertisements