Lank voordat St Patrick Ierland in die 5de eeu n.C. kom kersten het, het die mense onder andere ‘n songodin aanbid: Áine (uitspraak min of meer “Aanje”). Hoe goed verstaan ek dit na drie weke in die hartjie van die Ierse winter! Na amper drie jaar in Ierland vertel Middelkind hoe hy na die sonkeerpunt van 22 Desember uitsien, want van daar af is dit elke dag so ‘n rapsie langer lig…

Soggens so teen halftien is die son op; teen vyfuur is dit reeds weer pikdonker. Die son hang maar so laag bokant die suidelike horison rond, amper asof hy ietwat dikbek is. Meestal steek die wolke hom weg, maar nou en dan wen hy die stryd. Dan kleur hy die oggendwolke…

001.JPG…of sorg hy vir ‘n sobere sonsondergang.

Ierland sonsondergang.JPG
Die winterlig laat my aan die brons- en ystertydperk dink, soos deur die argeoloë afgebaken.

Die lig glans metaalagtig; die waters lê soos kwiksilwer onder die lae wolke.

ierlans se kwiksilwerlig op die see
Soveel water orals! Riviere, mere, stroompies, poele – en die reën kom en gaan na willekeur. Een wonderlike oggend is daar ‘n helder reënboog, met sy punt in die aangrensende skaapkampie. Bewaak Ierland se alomteenwoordige skape dalk potte goud?

ierse skapies2In 1795 verwys William Drennan in ‘n gedig na Ierland as “the emerald isle”, die eerste keer dat hierdie wonderlike beskrywing op skrif verskyn. Selfs in die grouheid van die winter straal die groen skakerings van mos en blare oraloor.

In “Ireland – a sacred journey” skryf Michael Dames:

Poets were specialists in liminality; they operated at the thresholds, between categories of space, time, or identity, in dangerous, “frontier” conditions, among uncomfortable truths. These they shaped into harmonious knowledge on behalf of the community.

Die Keltiese harp met sy assosiasies van digters en sangers – en ook onderdrukking en geweld – is nie verniet so ‘n bekende simbool van Ierland nie.

Op ons laaste dag in hierdie eienaardige, asemrowende land lyk die wolke só:

ierland altostratus undulatus
My skoondogter stuur vir my die volgende verduideliking:

You may have noticed some of these clouds across parts of Ireland this afternoon, these are known as altostratus undulatus. The altostratus undulatus is a type of altostratus cloud with signature undulations within it. These undulations may be visible mostly as wavy bases but frequently they are indiscernible to the naked eye. The wavy strips of clouds are generally near an inversion surface.

“Inversion” = “the act of turning upside down or inside out/ the reversal of a normal order, position, or relation” (Concise Oxford Dictionary); vandaar die meteorologiese term “temperature inversion”, wat aanleiding tot hierdie soort wolkformasie gee.

Ierland het gesmokkel met my kop…

ierland se lug

 

Advertisements