Hierdie jaar was op en af: soms effens moeilik, soms wonderlik. Steeds kon ek hier daarvan kom vertel en het julle meelewende kommentaar my moed gegee, of my vreugde beaam.

Tussendeur was daar die heerlike ontvlugting van die Towerinne se eskapades.

Nou is baie van my blogmaats op pad iewers anders heen vir die vakansie. Self vertrek ek en my gewese skoonsus oormore op ‘n epiese reis na Ierland, om by Middelkind en sy gesin te gaan kuier.

Coenie de Villiers het die mooiste gedig geskryf, waarin ‘n reis deur Suid-Afrika uiteindelik ‘n lewensreis word. Ek deel dit graag met julle, met erkenning en diepe bewondering vir die kunstenaar se verstommende talent.

Gebed van ‘n reisiger – Coenie de Villiers
– vir diegene wat elders bly of wat familie of vriende het wat oral om die wêreld nes gemaak het.
Sny vir my, o Heer, ‘n wandelstok of twee
Uit die woud by Tsitsikamma
en loop dan met my mee
Oor die vlaktes van die Groot Karoo,
oor die berge van Natal
Langs die kus af tot by Vleesbaai,
tot by die groen van Riversdal.
Brand die hemel van die Vrystaat
in my hart se dagboek in.
Laat my nooit die lug vergeet nie
wat aan die horison begin.
En Heer, is dit dieselfde son
wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds die reuk van reën
as jou geheue dalk sou kwyn?
Want ek vrees mos nie die vreemde nie,
selfs die afstand laat my koud.
By U is daar geen leemte nie,
U bly steeds my behoud.
Al reis ek oor die sewe seë –
skuif kontinente stil verby
Sal ek my voetval op U rig,
my in die reis verbly.
Maar ek vrees tog wel die eensaamheid,
ek skrik die groot alleen
Dis dán wanneer U my moet dra
want U weet ek gaan daarheen.
Laat die sterre dus my kompas wees,
en U steeds my ware Noord –
Lei elke voetstap van my reis, o Heer,
want dit is soos dit hoort.

Advertisements