SafaribusToortsie se wonderlike prentjie van ‘n angsbevange stranddorper met die opskrif: “Brace yourselves, the Vaalies* are coming!” het my lekker laat giggel – maar dit bevat ‘n groot waarheid. Self was ek vele jare een van daardie bende wat die lewe van plaaslike mense kom versuur het.

Wanneer mens met kind en kraai in ‘n strandhuis vakansie hou, is daar geen sprake van “luilekker” nie. Die seelug en swemmery sorg dat die spulletjie soos sywurms al wat voorkom, verorber. Die kombuisie is piepklein en daar is geen wasmasjien nie, wat elke derde dag ‘n besoek aan die wassery beteken. In ‘n vergeefse stryd teen sand, vee mens jou omtrent besimpeld. “Nou gaan ons braai” is als goed en wel, maar raai wie maak die bykosse en was die skottelgoed?

Die strand is tjok-en-blok vol mense en ‘n oor-entoesiastiese platejoggie laat ons ore tuit met die vreeslikste musiek via sy kolossale luidsprekers. (Die arme jongeling was nogal verleë toe ek, na aan trane, vir hom gaan vertel het hoe verskriklik graag ek net die see se geruis sou wou hoor…nou nie dat dit enigsins gehelp het nie.)

Met dié dat die hele Gauteng se Valies nou op die kuspaaie rondrits, is die verkeersknope waarmee mens die hele jaar lank gesukkel het, eenvoudig na die stranddorp verplaas en sit mens, vir die soveelste keer op pad na die supermark, maar weer in die verkeer vas. Die enigste verskil is dat hierdie paaie hoegenaamd nie gerat is vir die volume motors nie.

Die dag na Kersfees is ek al vodde vakansie gehou. So sit ek maar weer in die tou motors op soek na vars brood om gister se ham op te plak. Die bakkery se broodrakke is dolleeg, maar ‘n kennisgewinkie beloof dat daar om drieuur die middag ‘n nuwe baksel sal wees. Ek pak die ent terug huis toe aan en klok later die dag om vyf voor drie weer by die bakkery in.

Die plek is stampvol, erger as op die strand, en toe die broodrakke se wieletjies aangerol kom, stu die massa vorentoe. ‘n Wilde gees neem van my besit en ek lê onbeskaamd elmboë in om nader aan daardie begeerlike brode te kom. Dis elke man/vrou vir hom-/haarself en die duiwel haal die laaste een! Ek gryp ‘n brood in elke triomfantlike hand en sit af na die kassier toe, min gepla oor diegene langs en agter my.

Agterna het ek met ontsetting besef hoe die oerdrang om oorlewing my daardie middag gedryf het. En daai brode het nie eens ‘n enkele diamantjie bevat nie…

* Afgelei uit die vorige naam van SA se noordelike provinsie “Transvaal”.

Advertisements