Seegogga se feestelike perlemoenonthaal het my aan my heerlike kennismaking met hierdie eksotiese gereg laat terugdink.
Ons kinders was klein en Gewese Liefling het sy gesinnetjie by hom laat kom bly in Kaapstad, waar hy tydelik gewerk het. Hermanus het daardie jaar ‘n perlemoenfees gereël waarvoor spanne kon inskryf. Hulle moes eers self die perlemoen uithaal en dan op die rotse van die ou hawe kom voorberei (spierwitskoon skrop en met allerhande tegnieke sagmaak) en oor ‘n vuurtjie gaarmaak volgens ‘n resep van hulle eie keuse. GL se kantoor het ingeskryf en die manne het die nodige duikgerei gaan huur. Die spanleier was ‘n gesoute seekenner, maar die res was volslae amateurs. Die spanleier het met ‘n motorbootjie by die sloep ingevaar gekom en die res van die spanlede moes van die ou hawe af in die rigting van die boot swem, terwyl hulle perlemoen uithaal. (Hoogs oneties, dog uiters verstandig, het die spanleier ‘n klomp perlemoene op die boot versteek, wat hy op strategiese punte in die see gegooi het, sodat die perlemoenduikers dit ewe gemaklik kon oppik en in hulle sakkies bêre.)
GL het later vertel hoe die gewigte wat die verhuurder van duiktoerusting vir hom gegee het, veroorsaak het dat hy soos ‘n klip gesink en toe maar op die bodem aangestap het tot by die boot, waar sy spanmaats hom moes ophys en aan boord sitgemaak het. Daar was geen sprake van perlemoen “uithaal” nie, oorlewing was sy enigste oorweging.
Salig onbewus van hierdie drama het ek en die twee kleuters op die rotse gespeel. Ons dogtertjie was so in haar skik met haar nuwe paddavoetjies dat sy verseg het om dit uit te trek: kapliks, kaplaks het sy tussen die mense rondgeloop. So ‘n dag het darem maar ‘n heerlike gemoedelike atmosfeer: orals waar sy gekom het, het sagte glimlaggies van die besige perlemoenbewerkers haar begroet.
Later, rasend honger, kon ek by die verskillende stalletjies gaan proe: perlemoenfilette, geurige stoweperlemoen, gemaalde perlemoen… Dit was seker die avontuurlikste geëet van my lewe, onder ander omstandighede sou ek maar vir roereier gevra het…
Iewers het ek twee kiekies van hierdie heuglike dag:
1. GL wat in volle duikmondering staan, slaggereed met sy duikbril op die voorkop en gewigte om die middel, met ‘n taamlik onstuimige see in die agtergrond.
2. GL in ‘n opvoustoel, duikpak oopgerits en halfpad uitgetrek sodat dit soos ‘n vrot vel om hom hang. Hy sit langbeen agteroor op sy stuitjie en mens kan sien die man is moeg; trouens, so gedaan dat die res van die span maar die perlemoen moes skrop en bewerk.
Dis nou weer n heel ander storie klink dit vir my. Ouens het ook maar altyd gekroek as dit by kompetisies kom.
Klink heerlik, ek het nog nooit perlemoen geweet nie
Geeëet…
Dis die soort dae wat ‘n mens graag onthou. Ekself is nou nie juis ‘n perlemoenliefhebber nie, maar dis seker te wyte aan die perlemoensop wat een van ons vriende altyd gemaak het, smaaklik, maar so ryk dat my maag onderstebo was vir dae lank.
Toe stap GL maar op die bodem van die see 😁😁😁 Ai, ai hoe meer dae hoe meer dinge. Hermanus het soveel wonderlike herinneringe…maar die perlemoenfees het ons elke keer gemis.
Klink na ‘n lekker vakansie.
Ek het dit ook nog nooit geproe nie. Jy het mooi herinneringe, Frannie.
Waar is die dae toe perlemoen in oorvloed was? Ek dink die onetiese plan is tipies van’n boer maak ‘n plan- hulle is mos uitgehaal!
Perlemoen, net soos olywe, sushi, calamari, vars suurvytjies, viskuite ens, is ‘n aquired taste. As jy dit eers leer ken het is dit super lekker en spesiaal. Maar dis nie iets wat die onigeligte dalk sal waardeer nie. Vir ons hieronder us suurvytjiekonfyt die lekkerste lekker. Nog meer spesiaal omdat dit so skaars is. Ek neem dit as spesiale geskenk aan my skoonsus van PTA. En sy is bietjie sku vir die vreemde smaak en gee dit toe maar vir haar huishulp! Ai, sy kon dit eerder maar vir my teruggegee het!
Ek voel ook so. Sy kon dit eerder teruggegee het.
ek is by GL is veilig. Weet julle van die haaie wat daar rondswem? https://seegogga.com/2010/10/18/die-tamaai-haai/
Heerlike tye…toe alles nog maklik was…tot stap terug boot toe!!!
Perlemoen is heerlik verby. Sjoe, hoe lus het ek nou. Ongelukkig kry ‘n mens nie deesdae meer ‘wettege’ perlemoene nie en kry ek dit nooit meer te ete nie.
Toorts n mens kan dit koop by Pelicans by die hawe! Ek koop die gemaalde op rys( dan kroek dk maar n bietjie) maar hulle het ook heel perlemoen. Ongelukkig het dit ind laaste tyd baie duur gewrd vir baie min. Ek koop maar die voorgereg as ek myself baie wil bederf!
Dankie vir hierdie raad.