SafaribusDie ou Dakota daar langs die Gariepdam het my aan een van my mees onbesonne avonture laat terugdink.

Begin 1979. Daar is ‘n paar vliegtuigsitplekke so dwarsweg vasgesit net langs die Hercules se deur; verder is die binnekant met “hoenderneste” behang – stewige seilraamwerke waarop die troepies in vier lang rye so met die lengte van die vliegtuig af vir mekaar sit en kyk. Party keer terug vir ‘n tweede of derde toer in Suidwes, ander is heeltemal groen en weet glad nie wat om te verwag nie.

F klim by die vliegtuig in, getooi in ‘n sagte voile-tentrokkie met sulke pante voor af, wat veronderstel is om haar baba-boepie weg te steek (aan die einde van die sewentigerjare van die vorige eeu was daar geen sprake van die noupassende swangerkleertjies wat deesdae gedra word nie). Haar man is drie maande lank grens toe gestuur en hy oorweeg dit om langer te bly; daar is ‘n hele dorpie vir die staandemaglede se gesinne ingerig, sulke lang karavaanhuise wat semi-permanent staangemaak is. Die motivering vir F se reis is om te gaan beleef of sy kans sien vir ‘n lewe in die boendoe te midde van die bosoorlog.

Sy sit die drawiegie met haar babadogtertjie sommer so skuins voor haar op die plankpaadjie neer, waaronder mens die gestroopte dop van die vliegtuig kan sien. Hier is geen bekleding of panele om die binnekant te versag nie, want elke stukkie onnodige gewig is verwyder. Die Hercules se enjins begin te dreun en stadig skud die swaar ou walvis van die lug die swaartekrag af, kry doelgerig koers na die noorde.

Op Oshakati klim baie van die troepies af. ‘n Paar nuwe passassiers klim op, maar die vliegtuig is nou aansienlik leër soos dit verder vlieg – noord, steeds noord… Skielik, sonder waarskuwing, voel dit asof die vliegtuig val! F sou later hoor dat dit die landingstegniek is om ‘n moontlike vuurpylaanval te fnuik. Die manne in daai vliegtuig kon bly wees dat sy haar stem weggeskrik het, anders het hulle ore getuit. Die Hercules kom tot stilstand en wanneer die deur oopgaan, staan Gewese Liefling daar vir sy gesinnetjie en wag, bruingebrand en maerder in sy bos-uniform, met sy mooi druipsnor (onthou, dis die sewentigs) en sy oë vol liefdevolle verwelkoming.

Die volgende week is vol hoogtepunte:
Aandete by een van sy vriende, ‘n pannekoekaand by iemand anders. ‘n Braai waar die troepies die hele stapel roosterbroodjies wat F gemaak het, tot oneetbaarheid verskroei. ‘n Aand in die kroeg waar GL ‘n toekenning ontvang. Die baba is moeilik en een van die vrouens bied aan om met haar in haar stootwaentjie te gaan stap, sodat F die seremonie sonder steurnis kan geniet.

Laat een middag sit GL, F en die dogtertjie buite hulle tydelike karavaanhuis op die gras, toe hulle ‘n onmiskenbare beweging sien: ‘n groterige slang wat vinnig aangeseil kom. Instinktief gryp F haar kind en hardloop na die huis toe. Die slang beland onder die karavaan, vanwaar dit maklik by die huis sou kon inglip. Daar maak GL dit met ‘n klip vankant – die uiterste dapperheid, in ag genome dat GL ‘n dodelike vrees vir slange het. Sy makkers eien die slang die volgende dag as die een of ander soort kobra.

Die dag toe hulle moet terugvlieg, kom staan die vlieënier by F in die kajuit en ginnegaap. Sy is nie nou meer die onbekende passasier wat op Waterkloof opgeklim het nie. Al te gou is sy en die dogtertjie en die boetie-op-pad weer tuis. Op die ou einde besluit GL om nie die pos op die grens te aanvaar nie, sy loopbaan volg ‘n ander koers.

Naskrif: Wanneer ek lees oor die wroeging wat sovele van die troepies van destyds nog steeds verduur, maak dit my oneindig hartseer dat soveel goeie bedoelings, opregte idealisme en patriotisme tevergeefs verspil is. Ek gaan nie betrokke raak in ‘n debat oor die destydse bosoorlog nie, dis ‘n onderwerp wat in elk geval liefs vermy moet word. Maar met die kennis wat ons gehad het, het ons ons bes gedoen…

Vanuit my status as ouma wonder ek oor my mammie: hoe het sy dit reggekry om my en haar een-en-‘n-halwe kleinkind op daardie ekskursie te laat gaan, sonder ‘n enkele beswaar of vermaning?

Advertisements