Terwyl ek so aan die stories lees wat jou muse oor jou kom uitstort het, roer iets aan jou rooiblomprentjie elke keer my hart op ‘n diep-onbewuste vlak. Vandag kyk ek mooi daarna en besef: dis mos daardie groot litroos wat tweemaal per jaar uitbundig aan die growwe blare van die afgeskeepte ou plant uitbars!

Ek is hopeloos met plante, dis suiwer genade as selfs die gehardste vetplant my “sorg” oorleef. Een so ‘n dapper plant – einste so ‘n rooi litroos − het my op ‘n baie donker tyd in my lewe weer moed gegee.

Dis vroeglente en ek en my dogter ry na die huis wat ons moes ontruim om vir oulaas ‘n paar goed te gaan oplaai. Wenend dwaal ek deur die ruimte waar ons ons gesin grootgemaak het. Ek huil oor die muurskildery in my kind se kamer en oor die tuinplan wat toe nooit ten uitvoer gebring is nie. Ek kyk deur ons kamervenster na die slykgroen swembad wat in gelukkiger dae koel en blou geskitter het. Ek strompel oor die dorre gras om my arms om die silwer-eik te gaan slaan, toe die helderrooi skouspel my tot stilstand ruk:

Aan elke blaar van die plant in die witgeverfde pot pryk die sysagte skarlaken blomme met die pragtige liggeel meeldrade, ‘n kleuruitbarsting in die vaal verwaarlooste tuin. Dit slaan my asem weg.

“Kyk, Liefie, kyk!” Met my arm om my staatmakerkind se skouers staan die twee van ons oorstelp deur die verbete skoonheid van hierdie bloeiende plant. Met my laaste bietjie stem kry ek dit uit:

Nogtans sal ek jubel…

Advertisements