SafaribusIn die middel van die giggelgroen bus op pad dieper in die Karoo in sit Frannie en terugdink aan die Graaff-Reinet-avontuur wat Lekkervurig vir hulle bedink het. In haar gemoed heers ‘n diepe vrede. Sy draai ‘n spekboomtakkie tussen duim en voorvinger, dan diékant toe, dan daaikant toe, terwyl sy dink oor die wonderlikheid dat so ‘n plantjie nou as haar verteenwoordiger doer naby die mooie ou dorp in die Kamdeboo gaan groei (Kamdeboo – ‘n Khoikhoi-woord wat beteken groen hoogtes of groen holte). Watter sjarmante gebaar van Lekkervurig – om vir elke Towerin ‘n spekboompie in die reuse-vlagprojek te borg! ‘n Gebaar wat deur Toortsie beaam is, sodat daar nou twee boompies vir elke Towerin gaan groei.

Frannie is so bly dat sy die Vallei van Verlatenheid kon beleef, nadat sy ‘n leeftyd gelede steeds met man en kinders deur Graaff-Reinet moes jaag op pad see toe – nooit was daar kans om eers bietjie dié plek met die sprekende naam te gaan verken nie… O, die heerlikheid van daardie ballonvlug!

Sy dink aan al die pragtige Karoo-huise en -huisies, die beleënheid van ‘n dorp wat reeds 232 jaar lank bestaan en soveel beroemdes opgelewer het. Vir haar sal Anna Neethling Pohl altyd die heel eerste naam wees om met Graaff-Reinet te assosieer. Sy het gaan soek in die Grande Dame van die Afrikaanse teater se outobiografie (Dankbaar die uwe, uitgegee deur Human & Rousseau in 1974) na haar beskrywing van haar tuisdorp:

Ek dink aan daardie land van melk en heuning wat Graaff-Reinet was, daardie lewendige samelewing, omarm deur die (hoofsaaklik droë) Sondagsrivier, met sy geurigheid van sipres en vyelaning en kweperlaning en druiwe en perskes…dit was ‘n land Kanaän in die groot, uitgestrekte Karoo.

Vir Frannie was die rit in die antieke motor van ReCollection Rides ‘n nostalgiese hoogtepunt, want die motor waarin sy kon ry, was soortgelyk aan die een waarmee haar jeugliefde Tom soms op universiteit kon rondry. Sy onthou nou nog hoe hulpeloos hy was van die lag toe sy die eerste keer kon saamry in dié oulike ou kar – toe nog agterin; die ereplek langs die bestuurder is eers later aan haar toegeken. Destyds het die manne nog ‘n deur vir die dames oopgehou, dus kon Tom die petalje van naderby ervaar. Frannie draai toe mooi dwars om met grasie op die sitplek in te skuif – en val kaboems in die ruime spasie tussen die bestuurder se rugleuning en die agterste sitplekke op die motorvloer. Maar selfs die herinnering aan hierdie verleentheid versteur nie haar vredigheid nie, laat haar net sagweg sug en glimlag.

Sy leun vooroor en vroetel met die doekie oor die broodmandjie, trek dit effens opsy om seker te maak dat die antieke koekstaander nog veilig is – die staander wat Frannie vasgelê het nadat Broodina onder die bed in die Uilhuis uitgesleep is, waar die gek vrou die klipharde troukoek lê en kou het dat die krummels so spat. Mens weet nooit – dalk kan mens die staander nog op die Parade gaan verkwansel vir ekstra geldjies sodat die Towerinne Kaapstad behoorlik op horings kan neem. Dis mos nie sy wat die staander gesteel het nie – dit was Broodina! Daar’s in elk geval soveel om te sien in die Uilhuis dat die staander daar heeltemal verlore sou wees.

So salf Frannie haar gewete terwyl sy nadenkend ‘n spekboomblaartjie kou.