Saterdagoggend spring ek vol moed in my vars gedienste Micratjie om saam met WoordNoot en haar vriendinne, waaronder ook ‘n paar Towerinne, haar verjaarsdag te gaan vier. (Sy verjaar eers in Desember, maar het die praktiese besluit geneem om dit vroeër te vier.) Langs my op die passasiersitplek lê my gehawende padatlas – goed weggesteek, want wie ry deesdae nog sonder GPS rond? Daar is ‘n driekwartier tyd toegelaat en ek is redelik seker dat ek betyds by my bestemming sal uitkom. Dis sommer maklik: klim op die snelweg en draai weer links af as jy die voorstad uitgesprei sien lê…

Ag aarde tog en o wee, daar skryf ek en die Micra nóg ‘n hoofstuk in my verdwaalgeskiedenis. Toe ons verby The Reeds skiet, is daar nêrens ‘n afrit van die snelweg af nie. Ons gooi op ‘n stadium ‘n paniekerige draai aan die buitewyke van Diepsloot, tussen taxi’s, hordes voetgangers en ‘n vasberade bendetjie metro-polisiemanne deur. Ons piekel terug op ons spoor en beland uiteindelik in Centurion – darem nou al van die ellendige snelweg af. Hier en daar stop ons onder ‘n boom, dan blaai ek vervaard deur die kaarte om te probeer agterkom waar ons nóú is. Ek voel hoe ek gaandeweg verlep, dis verskriklik warm en ek was netnou al ‘n kwartier laat…

Uiteindelik kry ons ‘n agterpaadjie wat ek vertrou in die regte rigting loop en daar gaat ons! ‘n Lieflike boomlaning wat ‘n koel groen tonnel maak, gee my nuwe moed en toe Una van Bali Drome met haar gebruiklike bedagsaamheid bel om te hoor waar ek is, kan ek haar verseker ek is “nou-nou daar”. Een hele uur nadat ek daar móés gewees het, arriveer ek, reg in die middel van WoordNoot se verwelkoming. Dat ‘n mens jou naam nou so met ‘n plank kan slaan. Daar is egter geen verwyte behalwe dié in my eie hart nie: Una kom kry my by die hek, WoordNoot laat my aan haar regterhand sit, haar sus (ons gasvrou) skink vir my vrugtesap.

Die lang tafel, in ‘n oop vierkant gerangskik, is feestelik met koel appelgroen en woestynrosies getooi. WoordNoot vertel ons van haar verbintenis met elkeen van die talle vriendinne om die tafel, verwys in die proses ook na die virtuele toer van die groen bus. Una, Positief, ek en Bondels Gedagtes blom tydens haar vertelling oor al ons manewales. Ons stem saam dat Kameel hier moes gewees het i.p.v. in die Knysnabos en wonder of Perdebytjie kans sou gesien het om so ver te ry om te kom kuier.

Ons eet ‘n keurige middagete, afgerond met ‘n sny van die heerlike verjaarsdagkoek wat WoordNoot self gebak het. Ons kuier in die mooi tuin met die dik groen gras, waar voëltjies sing asof hulle betaal word.

Liewe Ria, innig dankie dat ek deel kon wees van jou verjaarsdagviering. Jy is ‘n fyn, stylvolle vrou wat die stampe en die stote van die lewe met grasie deurstaan – ‘n ware “Steel Magnolia”. Mag hierdie nuwe dekade jou sagkens behandel en werklik vir jou veel vreugde bring.