Safaribus

(As jy sou wonder wat op aarde hier aangaan, sal die volgende skakel kan lig werp:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

In die middel van die giggelgroen bus sit Frannie en neurie ‘n tangodeuntjie – sy voel vrolik, vrymoedig en vriendelik. Die goue strande van KZN, saam met die geselskap van die Towerinne en so hier en daar ‘n glimpsie van ‘n sekere “aanhanger” het haar sombere gemoedstoestand heeltemal genees.

Sy vroetel met die “spierewit gestyselde doekie” (volgens Perdebytjie) wat oor die broodmandjie gedrapeer is – dit lyk nou al taamlik gehawend van al die hantering. ‘n Oomblik lank keil haar gewete haar op – wat het haar besiel om ‘n diamant te gaan staan en wed op die uitkoms van die waterpolo?? – maar dan ervaar sy weer die salige salwing van die wete dat sy en Trommeltjies gewen het, wat beteken die diamant is veilig EN daar is ekstra kontant in daardie mandjie! Verder het sy mos nou die diamantvoorraad aangevul met ‘n handvol robyne – net sy, Silver en Abrie weet waar dié vandaan gekom het. Sy druk haar gesig in die bos rooi rose, wat ook nou al gehawend is, maar wat – half verlepte rose ruik mos net al hoe lekkerder…

O, die Ifafa-strand! Na die glorieryke waterpolo-oorwinning het sy langs die see gaan stap, tot by die rotspoeletjies van Ifafa, waar sy as agtjarige rondgedwaal en gesing het. (Hoe bitter lank gelede – en tog voel dit soos gister!) Die plantegroei op die duine ruik nog net so soet soos destyds; die seegeruis raak harder en sagter soos wat sy die strandpaadjies volg. In een rotspoeletjie spoor sy ‘n skaars varingagtige anemoon op, wat dromerig vir haar wuif. In ‘n ander rotspoeletjie pla sy die vet, taaierige oranje anemones, druk haar vinger sagkens in die middel sodat die tentakeltjies sagweg daarom vassuig. Sy sien klein vissies, krappies en skulpslakkies wat spore in die dun lagie sand op die rotsbodem maak. Al weet sy mens behoort niks weg te dra nie, glip sy ‘n klein ronde spoelklippie in haar sak as talisman. Dan slenter sy weer oor die klam sand terug na haar reisgenote.

Frannie glimlag by die besef: Ifafa se strandtyd het haar die nodige krag vir daardie wilde middernagfees gegee… En (‘skuus Lou) vir die gruwelike grap wat Woordnoot en Bondels aangevang het!

Van Oribi Gorge onthou sy nie veel nie, sy was ietwat gedaan. Hierdie Towerinne is baie energiek! Die hangbrug was ‘n heerlike avontuur, maar die ziplyn was ‘n bietjies te erg, sy het maar meestal oë toegeknyp. So in die stilligheid haal sy weer haar hoed af vir Kameel wat vir ou Broodina so mooi gaan red het. Sy wat Frannie is, sou Broodjies aan haar lot oorgelaat het!

Nou stu die bus voort na ‘n lekkervurige avontuur…