‘n Ou, bekende pad – sovele kere gery in ‘n ander, meer geborge tyd, toe my (gewese) skoonsus en haar oorlede man se deur steeds wawyd oopgestaan het vir haar boetie en sy gesin. Die Afrikalug tower die mooiste sonsondergangkleure op, spesiaal vir my VSA-kind, wat ‘n tydjie afknyp om vir haar Bosveldfamilie te gaan kuier – mense wat sy nege jaar laas gesien het en na wie sy so verlang.

My skoonsus se dogter bedryf ‘n gasteplaas net buite Thabazimbi, aan die anderkant van die pad teenoor die Marakele Nasionale Park. Teen die tyd wat ons daar aankom, is dit reeds donker – ‘n aanhaling (weet nie van wie nie) draai in my gedagte rond: “Night falls swiftly in the African bush…” Die lig wat by die eetkamer uitstroom, wys ons waarheen. Ronde rooiboklywe lê op die sagte gras waar hulle snags kom slaap.

Soos wat dit dekades lank uit my skoonsus se gulhartige kombuis op hulle Bosveldplaas was, so is haar kind se gasvryheid: stomende bakke kos in bain-maries − murgsagte stowevleis met wortels en aartappels, smaaklike spinasie en soetpatats, ‘n reusebak mengelslaai. Ek vergryp my verder aan twee stewige stukke kaaskoek/tert, ‘n familieresep met ‘n tennisbeskuitjiekors en ingelegde vrugte bo-op.

My skoonsus se seun en sy liewe vrou het saam kom kuier. Die st. 5-seuntjie van weleer is nou ‘n welvarende sakeman, boer en gemeenskapsleier. Ek onthou…

Ons gaan kyk na die jong boer se nuwe Brahmanstoet: soos die veewagter Josef vir hulle fluit, doem die groot roomkleurige diere geruisloos tussen die lang groen riete op. Josef stap na ‘n mooi jong vers, slaan sy arm om die groot nek, krap die bees op die voorkop. As sy kon, sou sy sekerlik gespin het. Haar naam is “Mistress”.

My jonger skoonsus het vandag alleen in die pad geval en drie ure lank gery om ook vanaand hier te wees. Ek onthou hoe opgewonde sy oor ons nuwe babadogtertjie was. Nou is haar eie eerste kleinkindjie reeds gebore en die tweede enetjie is amper daar. Ons het só baie om in te haal…

Die chalet se grasdakgeur sorg vir soet drome in hierdie enkele Bosveldnag wat aan my gegun is.

Vroegoggend klingel die boerboktroppie se leiersklok soos hulle die kosgeeplek bestorm. ‘n Vlakvarkgesin vroetel in die grond. ‘n Belgiese paartjie wat gisteraand te laat by Marakele se hek opgedaag het en toe gelukkig in die donker hierdie toevlugsoord bereik het, sit langbeen in die son, glimlag breed en welwillend met almal wat verbyloop.

Ons kuier luilekker die oggend om en vat vroegmiddag die pad terug stad toe. In my hart blom die besef dat ek tog, êrens, iets “reg” moes gedoen het, want hierdie mense het vir my lief gebly.

My jonger skoonsus borduur graag om spesiale geskenke te kan gee. Terwyl sy borduur, weef sy wense en gebede vir daardie persoon in haar handewerk in. In my tas is ‘n geskenkhanddoek waarop sy geborduur het: VREDE. Hoe het sy geweet…?

Bosveld